‘Afrikaner moet Westerse krisis help oplos’

‘n Kamp van migrante vanuit Wes-Afrika en Afghanistan in Parys, Frankryk in Desember 2022 (Foto: Maxime Gruss / Hans Lucas/AFP)

Die Westerse beskawing beleef ʼn krisis, en die Afrikaner kan ʼn groot rol speel daarin om te keer dat dié beskawing tot niet gaan.

Dit was Dinsdag die konsensus van verskeie kenners tydens ʼn konferensie deur Akademia om oor die krisis van die Weste te besin.

Volgens Jaco Kleynhans, Solidariteit se hoof van internasionale betrekkinge, kan niemand stry dat die Westerse beskawing tans deur ʼn krisis in die gesig gestaar word nie. Dié krisis word veroorsaak deur interne én eksterne faktore, insluitend selfhaat, jaloesie van ander moondhede veral in die Ooste, en demografiese verandering.

“Baie Westerlinge ly aan ʼn interne selfhaat, weens ʼn tendens om alles wat die Weste doen en gedoen het te kriminaliseer. Die aanslag op die Westerse kultuur is enorm, veral wat die politieke stelsel betref. Demokrasie, die vryemarkstelsel en eiendomsreg is besig om sy aantrekkingskrag te verloor.”

Hy noem ook dat die instroming van immigrante uit ander wêrelddele en Westerlinge is eie ongeneentheid om kinders te hê, ʼn verandering in hul demografie tot gevolg het, wat verdere uitdagings bied.

Ook dr. Ernst Roets, die Solidariteit Beweging se hoof van beleid, meen die Weste se stryd is teen ʼn moderne soort anti-beskawing, ʼn ideologie wat die waardes van die Westerse kultuur, soos die Christen-geloof, wil vernietig.

Kleynhans meen egter nie dié beskawing sal sommer tot ʼn val kom nie, deels oor die ryk kulturele, ekonomiese en politieke bydrae wat dit tot die wêreldgeskiedenis gemaak het.

“Dit is egter so dat ons nie kan staatmaak op groot moondhede soos Amerika of die Europese Unie om die Westerse beskawing te red nie. Dit word eerder nou die verantwoordelikheid van kleiner gemeenskappe wat reg oor die wêreld versprei is en die Westerse kultuur uitleef.”

Hiervoor, meen Roets en Kleynhans, is die Afrikaner veral goed geposisioneer, vanweë lesse wat die volk uit sy geskiedenis geleer het.

“Ná die val van apartheid heers daar in Suid-Afrika ʼn tipe anti-Afrikaner-sentiment, waar ons as tweedeklas burgers hanteer en as sondebokke voorgehou word vir alles wat in die land verkeerd gaan.”

Hy sê daarom het ʼn nuwe soort Afrikaner tot stand gekom, een wat ontnugter is met die staat en gekenmerk word deur ʼn herontdekking van kultuur en die moderne wêreld. “Ons het geleer die oplossing lê in gemeenskap en ons eie instellings, eerder as die staat. Daarom is die Afrikaner in die voorste linies van die beskermingstryd. Ons moet oplossings vir die Weste se probleme vind.”

Hy sê die Afrikaner is weer relevant omdat hy deel van die oplossing kan wees en die res van die wêreld uit sy ervarings kan leer. “Verskeie Europese gemeenskappe steek nou hande na ons uit. Hulle erken ons gedeelde waardes en ook wat Afrikaners bereik het.”

“Ons is verantwoordelik vir die voortbou van die Westerse tradisie. Nie net hier nie, maar in die uithoeke van die aarde.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.