Aftog geblaas in wantrouemosie teen Williams

Randall Williams (Foto: DA)

Raadslede van die ANC en EFF het gister uit ʼn raadsvergadering gestap sodat hul eie mosies van wantroue in burgemeester Randall Williams nie gedebatteer kan word nie.

Cilliers Brink, die DA se nasionale woordvoerder, sê nadat sake aanvanklik ure lank vertraag is, het die ANC- en EFF-raadslede kans gehad om in die vroeë oggendure hul saak teen die burgemeester te stel.

Geen só ʼn saak is egter voorgelê nie.

“Pleks daarvan het die partye volgehou dat daar nie oor hul onderskeie mosies van wantroue gedebatteer of gestem moet word nie. Sou hierdie mosies hanteer gewees het, sou dit verslaan gewees het en ingevolge die reëls en prosedures van die munisipale raad mag ʼn soortgelyke mosie nie binne die volgende drie maande toegelaat word nie,” sê Brink.

Daar is al geruime tyd spanning in die Tshwane-metro wat met die DA aan die stuur in ʼn koalisie regeer word.

Brink sê dit is duidelik dat die ANC-EFF-blok in Tshwane hoop vir een of ander verwikkeling in hul guns; ʼn geleentheid om ʼn wig in te dryf tussen die partye in Tshwane se veelpartykoalisieregering en so die getalle bymekaar te maak wat hulle kort om ʼn mosie van wantroue in die burgemeester te laat slaag.

“Die DA is vasbeslote om te keer dat dit gebeur. Ons sal Tshwane se veelpartykoalisie teen die aanslag van die ANC en die EFF verdedig en verseker daar is ʼn minimum vlak van bestendigheid in die stad om te verseker dinge word gedoen.”

Daar is oënskynlik ʼn teiken op Williams se rug en verskeie opposisiepartye het hom van korrupsie beskuldig rakend ʼn ooreenkoms om alternatiewe krag vir Tshwane op te wek. Die stad het ʼn beleggingsvoorstel van ʼn konsortium ontvang wat die grond wil huur waarop twee ongebruikte kragsentrales staan, om gasturbines te installeer vir ʼn projek wat moontlik 800 MW tot die stad se kragnetwerk kan voeg.

ʼn Verslag om openbare insette oor dié voorstel te kry, is vroeër onttrek nadat die ANC, ActionSA en die EFF ʼn kabaal daaroor opgeskop het en die burgemeester van ongerymdhede beskuldig het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anel ·

Hulle baklei teen vooruitgang. Kry seker ook iets van Eskom!

kaplyn ·

Wat bedoel jy met “kry seker iets van Eskom”. De Ruyter het al daardie kraantjies toegedraai. Dis hoekom almal De Reuyter so haat.

Papsak ·

Nee Mnr Williams ek stem moenie laat hulle jou uit werk nie staan vas jy beter as EFF of enige ander kader hou jou pos

Boon ·

Hulle wil nie demokratiese proses volg nie , maar eerder irrasionele indoktronasie as korrekte prosedures. En dis waarom armes ly en daar nie werk is nie

Oosieoos ·

Eff en Anc altyd teen enige iets wat ten goede is. Pateties swak geen interigiteit nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.