AgriCAD-vrou vir 85 aanklagte van diefstal gevonnis

Die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Pretoria. Foto: ANA

Die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Pretoria het Lizette Marielle Steyn (56), ʼn voormalige finansiële en administratiewe bestuurder van AgriCAD, Vrydag tot 12 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis. Sy is op 85 aanklagte van diefstal skuldig bevind.

Volgens Lumka Mahanjana, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het Steyn vanaf Februarie 2019 as finansiële en administratiewe bestuurder vir AgriCAD, ʼn maatskappy wat landbouwerktuie vervaardig, gewerk.

“Haar verantwoordelikhede was onder meer om die krediteure maandeliks vir betaling op die sakebankrekening te laai en om dag-tot-dag-boekhouding te doen.

“Steyn het dus volle toegang tot AgriCAD se Absa-bankrekeninge gehad,” sê Mahanjana.

Tydens haar indiensneming het Steyn die besonderhede van een van AgriCAD se Absa-bankrekeninge verander en dit met haar ses verskillende persoonlike Capitec-rekeninge vervang.

“Van Oktober 2020 tot Mei 2023 is 85 verskillende betalings van meer as R16 miljoen vir die maatskappy in haar persoonlike bankrekeninge inbetaal.

“Met die geld het Steyn sonpanele by haar huis geïnstalleer en luukse items, asook ʼn woonwa en ʼn voertuig vir haar skoonseun gekoop.

“Sy het ook vir haar dogter se troue én haar gesin se naweekuitstappies en vakansies betaal,” sê Mahanjana.

Steyn is in Julie verlede jaar in hegtenis geneem en is sedertdien in aanhouding.

“In die hof het sy skuld beken op die aanklagte en gesê sy het die geld gesteel om skuld te betaal omdat haar man sy werk verloor het.”

Sy het gevra dat die hof haar swak gesondheid “en dat sy ʼn eerste oortreder is” by die oplegging van ʼn vonnis in ag moet neem.

Die aanklaer, adv. Rachelle van der Walt, het egter aangevoer dat hoewel Steyn ʼn eerste oortreder was, haar oortredings oor drie jaar gepleeg is.

Van der Walt het verder gesê Steyn was in ʼn vertrouensposisie, maar het haar werknemer verraai en nie geskroom om haar oneerlike optrede weg te steek nie.

“Sy het Capitec-rekeninge in haar naam oopgemaak wat sy gebruik het om die gesteelde geld vir luukse items en ʼn uitspattige leefstyl te ontvang.”

Van der Walt het daarom aan die hof gevra om ʼn langtermyn-gevangenisstraf te oorweeg wanneer die vonnis opgelê word.

Tydens die uitspraak van die vonnis het die landdros, Ignatius du Preez, gesê Steyn het skuld beken omdat sy geen ander keuse gehad het nie.

“Die feit dat sy ‘van hart verander het’ en haar misdadige optrede erken het, is omdat sy vasgetrek is en nie uit innerlike gevoelens van spyt nie.”

“Steyn het die oortreding begaan toe sy op ʼn ouderdom was waar daar van haar verwag is om tussen reg en verkeerd te kan onderskei, maar sy het klaaglik misluk.

“Voorts word howe toenemend gekonfronteer met die situasie waar oortreders met mediese uitdagings ernstige oortredings pleeg, maar geen siekte kan as ʼn lisensie gebruik word om ʼn misdaad te pleeg nie.”

Die Nasionale Vervolgingsgesag het die vonnis verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Zilla ·

12 jaar vir diefstal / bedrog en 5 jaar opgeskorte vonnis vir ma wat haar 12-jarige seun amper doodslaan…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.