Agt brand dood in gru-ongeluk

Die ongelukstoneel buite Beaufort-Wes waarin agt mense dood is. (Foto: Verskaf)

Agt mense is dood toe ʼn motor en ʼn minibus-taxi trompop op die N1 buite Beaufort-Wes gebots het. Die voertuie het aan die brand geslaan en al die insittendes het onherkenbaar verbrand.

Die N1 was gevolglik Maandag vir ʼn ruk lank in albei rigtings gesluit. Die ongeluk het die oggend tussen Beaufort-Wes en Leeu-Gamka plaasgevind.

Volgens Daylin Mitchell, LUR van vervoer en openbare werke in die Wes-Kaap, het een van die motor se buitebande gebars en dié voertuig het die minibus-taxi reg van voor getref.

Die polisie, nooddienste en patologiese dienste was almal op die toneel om bystand te verleen en ondersoek in te stel.

“Ons innige meegevoel gaan uit na die geliefdes van die mense wat in die tragiese ongeluk dood is,” het Mitchell gesê.

Hy sê die Wes-Kaap ervaar tans ʼn groot toename in verkeersvloei nadat skole en sakeondernemings verlede week vir die Desembervakansie gesluit het.

Hy het by motoriste gepleit om versigtig en geduldig op die paaie te wees en hul voertuie na te gaan voordat hulle ʼn lang reis onderneem, om te verseker dat dit padwaardig is.

“Dit is ook belangrik dat alle motoriste by die spoedgrens hou. Deur te jaag verhoog jy die kanse op ʼn ongeluk en is die kanse ook groter dat die insittendes van die voertuig ernstig beseer sal word in ʼn ongeluk. Ry ook stadiger as die sigbaarheid swak is of as jy ʼn voetganger langs die pad sien loop.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.