Agt dood ná drie voertuie bots

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: Hansie Linde)

Altesame agt mense is Vrydag dood en talle ander ernstig beseer nadat ʼn Nissan-bakkie, wat 13 mense vervoer het, glo deur twee aankomende voertuie getref is.

ʼn Isuzu-voertuig en ʼn Toyota‑minibustaxi het na bewering teen die stilstaande bakkie langs die D3260-pad in die rigting van Seloane in die Phalaborwa-omgewing gebots.

Sewe mense is op slag dood en een het op pad na ʼn hospitaal aan sy beserings beswyk. Diegene wat tydens die voorval beseer is, is na die Maphutha Malatji-hospitaal in Namakgale geneem.

“Spoed en roekelose bestuur word as een van die moontlike oorsake van die ongeluk aangevoer,” het die departement van vervoer en gemeenskapsveiligheid in Limpopo in ʼn verklaring gesê.

Forensiese ondersoeke word steeds op die toneel afgehandel.

Die LUR vir vervoer en gemeenskapsveiligheid in die provinsie, Polly Boshielo, het intussen haar innige meegevoel met die oorledenes se geliefdes betuig.

“Ek is hartseer oor hierdie sterftes en almal wat deur die tragiese voorval geraak word,” het sy gesê.

“Ek wil opnuut by motoriste pleit om die padreëls te gehoorsaam sodat hulle lewend by hul onderskeie bestemmings aankom. Ons moet te alle tye die reëls nakom. Dit is die enigste manier om menselewens op die pad te red.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.