Agt geskors oor ‘onreëlmatige’ toekenning van tenders

Minister Barbara Creecy. (Foto: Departement van omgewingsake)

Die departement van omgewingsake, bosbou en visserye het agt amptenare voorlopig geskors in die lig van ’n forensiese ondersoek na kontrakte wat na bewering onreëlmatig deur die departement se afvalbestuursburo toegeken is.

Albi Modise, woordvoerder van die departement, sê die ouditeur-generaal (OG) van Suid-Afrika het tydens die oudit van finansiële state vir die finansiële jaar wat op 31 Maart 2019 geëindig het, ʼn aantal tenders geïdentifiseer wat onreëlmatig toegeken is.

Dit het nege tenders ingesluit wat deur die departement se afvalbestuursburo toegeken is met ʼn totale meerjarige kontrakwaarde van meer as R2 miljard en uitgawes vir die boekjaar 2018/’19 ten bedrae van meer as R337 miljoen.

Volgens Modise het Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, gevolglik die destydse direkteur-generaal, Nosipho Ngcaba, opdrag gegee om vas te stel waarom haar departement tenders onreëlmatig toegeken het.

Ngcaba is onder meer versoek om vas te stel of die departement enige verliese gely het, of die departement waarde vir sy geld ontvang het, of enige derde partye bedrog of korrupsie gepleeg het en/of enige persoon of persone wetlik aanspreeklik gehou kan word vir die onreëlmatige uitgawes.

“Met betrekking tot ses van die nege tenders met ʼn gesamentlike waarde van meer as R1,2 miljard (R1 282 850 820,61) is daar in die ondersoek prima facie-getuienis gevind wat onreëlmatige aanstellings illustreer as gevolg van nalatigheid, wangedrag en/of moontlike bedrog en korrupsie deur sekere amptenare van die departement.”

Die departement is gevolglik besig om dissiplinêre stappe te doen ten opsigte van wangedrag wat in die verslag geïdentifiseer word.

“Ten opsigte van die drie oorblywende tenders, met ʼn gesamentlike waarde van meer as R822 miljoen (R822 317 398,32) is daar in die ondersoek geen bewyse gevind wat dui op wangedrag deur amptenare of verliese wat die departement gely het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.