ʼn Agtjarige seun het Saterdag in ʼn strandmeer by Touwsrivier in Wildernis in die Wes-Kaap verdrink, het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) Sondag gesê.
“Die seun het saam met sy vriende geswem toe hy onder die water verdwyn het,” het Hennie Niehaus, stasiebevelvoerder van NSRI Wildernis, gesê.
Die NSRI is omstreeks 17:50 ontbied. ʼn Vrou wat die seun se liggaam op die water sien dryf het, het hom reeds uit die water begin haal toe die NSRI opgedaag het.
“Paramedici van die NSRI het KPR-behandeling op die kind toegepas en dit is in die hospitaal voortgesit, maar alle pogings om die kind by te bring was tevergeefs,” het Niehaus bygevoeg. Die kind is in die hospitaal dood verklaar.
Die polisie het ʼn nadoodse ondersoek gelas.