Airlink pas vlugskedule aan weens aandklokreël

Airlink

Die private streekslugdiens Airlink het Dinsdag gesê hy sal sy vlugskedule aanpas vir vlugte wat soggens en saans vertrek sodat passasiers die aandklokreël kan nakom met die minimum ontwrigting van hul reisplanne.

Die landwye aandklokreël geld nou van 21:00 tot 06:00.

Airlink verbind hom nou daartoe om die nodige veranderinge aan vlugte aan te bring wat oorspronklik voor 08:00 sou vertrek asook vlugte wat na 20:00 sou land. Dié vlugte sal herskeduleer word om so gou as moontlik ná 08:00 te vertrek en sover moontlik voor 20:00 te land.

Vlugte kan moontlik in sommige gevalle ook saamgevoeg word.

“Hierdie skedule-aanpassings sal kliënte wat op oggendvlugte vertrek, genoeg tyd bied om na lughawens te pendel en die nodige gesondheid-, veiligheid- en immigrasie-ondersoeke af te handel sonder om die aandklokreël te verbreek,” het die lugdiens gesê.

“Dit sal ook passasiers op aandvlugte toelaat om die aankomsprosedures af te handel en voor die aandklokreël in werking tree na hul huise of verblyf te pendel.”

Die skedule-aanpassings geld in dié stadium tot 15 Januarie wanneer die regering na verwagting die vlak 3-afsonderingsregulasies sal hersien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.