Aktiviste boos oor eksplorasie aan KZN-kus

(Foto: Wikipedia)

Omgewingsaktiviste het formeel geappelleer teen die departement van minerale hulpbronne se besluit om omgewingsgoedkeuring te gee dat ondersoekende olie- en gasboorwerk langs die KwaZulu-Natalse kus gedoen mag word.

ʼn Koalisie bestaande uit 16 omgewingsgroepe van oor die provinsie het Maandag op die Durbanse strand hul voorneme aangekondig om ingevolge die openbare deelname-proses appèl aan te teken.

Hul redes hiervoor is onder meer die risiko van ʼn “katastrofiese oliestorting”, ʼn versuim om die sosio-ekonomiese uitwerking behoorlik in ag te neem, asook ʼn onvoldoende openbare deelnameproses.

Die departement se toestemming laat die Italiaanse maatskappy Eni toe om ondersoekende boorwerk vir gas en olie te doen in ʼn kusgebied van meer as 300 km tussen Port Shepstone en die nywerheidstad Richardsbaai in die noorde van die provinsie.

Die Petroleum-agentskap van Suid-Afrika (Pasa) het in 2013 aanvanklik die regte toegeken aan Sasol – vir wat bekend staan as Blok ER236 – en laasgenoemde het Eni daarna as vennoot aan boord gebring.

Die goedkeuring is weens openbare druk verskeie kere vertraag. Daar was in ʼn stadium ook ʼn regeringsmoratorium om nie enige nuwe lisensies uit te reik nie. Die minister van minerale hulpbronne, Gwede Mantashe, het die verbod verlede jaar opgehef omdat dit volgens hom beleggings ʼn hupstoot sou gee.

Die departement se goedkeuring gaan Eni toelaat om nagenoeg 62 km vanaf die strand te boor op ʼn diepte van nagenoeg 4 km.

Ses boorgate is goedgekeur.

“Vir die departement van minerale hulpbronne om voort te gaan met die goedkeuring, terwyl hulle die wetenskap van aardverwarming goed verstaan, is roekeloos en ondeurdag,” het Desmond D’Sa van die Suid-Durbanse gemeenskapsomgewingsalliansie, gesê. Die alliansie lei die omgewingskoalisie.

D’Sa het gesê die besluit om die boorwerk goed te keur, was “voortydig”.

Die aktiviste se appèl is gegrond op prosedurele billikheid. D’Sa het gesê alle besluite wat tot dusver geneem is, is beïnvloed deur Mantashe se “haastige najaging van olie- en gasontwikkeling” deur die Wet op die Ontwikkeling van Minerale- en Petroleumhulpbronne.

KwaZulu-Natal het meer as 12 000 vissers wat staatmaak op die oseaan om ʼn inkomste te verdien en ʼn toerisme- en ontspanningsbedryf wie se bron van inkomste óók van die see afhang, het D’Sa gesê.

Die evaluasie en voorstelle van die goedkeuring kom van Petro SA, wie se mandaat dit is om die ontginning van olie en gas te bevorder, te reguleer en te fasiliteer, het hy gesê.

“Die besluite neem dus nie die verwoestende uitwerking van olie- en gasontginning op die omgewing in ag nie en ook nie die beginsel wat verband hou met die reg op ʼn gesonde omgewing nie. Dit word in die Grondwet beskerm.”

D’Sa het gesê fossielbrandstofbeleggings van dié aard behoort nie oorweeg te word nie, gegewe die “klimaatskrisis” wat die wêreld in die gesig staar.

“Daar word aangevoer dat besluite wat aanhou om afhanklikheid van olie en gas te bevorder, irrasioneel en onbillik is. Tweedens kan die uitwerking van klimaatsverandering die risiko van olie- en gasontploffings verhoog.”

Die appèl is by die departemente van omgewingsake en van minerale hulpbronne, Pasa én Eni ingedien.

ʼn Finale besluit word binne 60 dae verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Piet parys ·

Die arrogante Anc wil nog steeds ,maak en breek soos hulle wil . Mantasha wat kry jy daaruit???????

Peper ·

Weereens ‘n ooglopende bewys hoe daar nie ‘n veer gevoel word oor die volgende generasie nie… Soek my sakke vol, Nou en die res moet maar vir hulself sorg… Sal hulle eie kinders verkoop vir rykdom…
In selfde asem, skep nou want more gaan miskien nie kom vir jou ANC nie…

daniel ·

Suid afrika moet altyd teen die stroom op swem.
Die wereld is merendeels besig om weg te beweeg van die skadelike onginning van olie en gas, en beweeg in die rigting van volhoubare alternatiewe bronne soos bv son en wind

Leon ·

Die regering het twee SASOL aalegte toegemaak. Dus is ons plaaslike vervaardigings vermoë baaaie verminder. As ons nie een van die dae will R100 ‘n liter brandstof betaal nie, sal ons moet iets doen om ons eie brandstof te kry want die ANC sal nie meer SAOLs oopmaak of weer aan die gang sit nie. Hulle sal liewer die steenkool uitvoer na hulle pêlle in Sjina.

Dink bietjie ·

Matashe moet bietjie wyer dink of mense kry om dit vir hom te doen. Hoekom stel hy nie die voorwaarde dat Sasol en Eni die helfde vd gate mag boor op voorwaarde dat hulle ‘n wind of sonplaas ontwikkel en in stand hou vir 20 jaar wat ‘n aansienlike hoeveelheid krag voorsien aan die nasionale netwerk nie? Een hand was die ander hand. Maar nee, hy is seker bang die gans wat die goue eiers moet lê, vlieg weg …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.