Ál meer tieners in SA word ma’s – StatsSA

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) het Maandag die land se geboortesyfers vir verlede jaar bekend gemaak en daarmee saam kommerwekkende statistieke oor die aantal tienerswangerskappe gegee.

Volgens StatsSA het meer tieners verlede jaar geboorte gegee as in 2020 en selfs meer kommerwekkend is dat sommige van die nuwe ma’s slegs 11 jaar oud is.

Luidens die jongste statistieke was 45 257 van 2021 se geboortes van ma’s wat 17 jaar en jonger is. Dit is meer as 10 000 meer tienergeboortes as wat in 2020 aangeteken is.

Altesame 42 van verlede jaar se tienergeboortes was boonop van ma’s tussen 11 en 12 jaar oud. StatsSA het reeds in 2020 gemaan dat swangerskappe wat op só ʼn jong ouderdom plaasvind, dikwels meer komplikasies veroorsaak en boonop ʼn lae oorlewingsyfer vir die babas inhou.

Só lyk tienerswangerskappe in 2021

Meer as ʼn miljoen geboortes is verlede jaar in die geheel in die land aangemeld, waarvan altesame 949 757 geboortes in 2021 plaasgevind het en in dieselfde jaar geregistreer is. Altesame 498 573 van die geboortes was boonop seuntjies en 491 056 dogtertjies.

Nog 137 769 kinders se geboortes is by verlede jaar se geboortesyfers gevoeg weens laat registrasies. Dié kinders is reeds die vorige jaar gebore, maar eers in 2021 geregistreer.

Soveel babas is in 2021 in Suid-Afrika gebore

Felicia Sithole, woordvoerder van StatsSA, sê die uitwerking wat die Covid-19-pandemie op staatsdienste gehad het, asook die sluiting van die departement van binnelandse sake het in 2020 daartoe gelei dat minder mense hul kinders se geboortes betyds kon registreer.

Die afname van 9,2% in geboorteregistrasies binne 30 dae het egter in 2021 met 4% toegeneem van 71% in 2020 en 75% verlede jaar.

Laat geboorteregistrasies, registrasies wat dus ná 30 dae gedoen is, maar voor die einde van die jaar, het ook afgeneem van 25% in 2020 tot 20% in 2021.

“Die Wysigingswet op die Registrasie van Geboortes en Sterftes bepaal dat alle geboortes binne 30 dae vanaf die datum van geboorte geregistreer moet word,” sê Sithole.

“In 2021 het 74,6% van geboortes aan hierdie wysiging voldoen, maar KwaZulu-Natal bly steeds die enigste provinsie wat swak presteer in terme van vroeë geboorteregistrasies met slegs 67,7% geboortes wat binne 30 dae geregistreer is.”

Luidens die verslag spook StatsSA jaarliks steeds om voldoende inligting oor die pa’s van nuwe babas te bekom.

In 2021 kon StatsSA geen betroubare inligting oor die meeste van die nuwe pa’s versamel nie, aangesien meer as 60% van al die geboortes sonder ʼn pa se inligting geregistreer is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.