Allemintige modelmotorversameling eersdaags opgeveil

Die hele versameling. (Foto: Verskaf)

ʼn Motorsportmuseum in Kaapstad, wat ʼn indrukwekkende versameling wedrenmemorabilia en honderde klassieke en modelrenmotors uitstal, gaan einde vandeesmaand onder die hamer op ʼn internasionale veiling.

Die versameling van meer as 400 modelmotors en ander memorabilia gaan óf as ʼn volledige versameling opgeveil word óf in individuele lotte.

Van die indrukwekkendste lotte wat by die veiling beskikbaar gaan wees, sluit in ʼn Lotus Formule 1 tipe 78-modelmotor uit 1977 wat ter viering van Mario Andretti gemaak is. Slegs 500 hiervan is ooit gemaak.

Een van die 100 1968‑Ferrari 350 Team Gunston-modelmotors wat ooit gemaak is, sal ook beskikbaar wees.

ʼn Item uit Suid-Afrika se wedrengeskiedenis sal ook opgeveil word met die verkoop van ʼn modelmotor geteken deur een van die land se grootste renlegendes, Sarel van de Merwe.

Twee seldsame kunswerke, een van die 1955‑Monaco Grand Prix waarvan slegs 50 bestaan, asook een van die 1966‑Le Mans Grand Prix, sal ook beskikbaar wees.

‘n Modelmotor geteken deur Sarel van de Merwe. (Foto: Verskaf)

Stef Olivier, direkteur van die Kaapse veilinghuis High Street Auctions, sê hierdie versameling is dekades gelede deur die renjaer Keith Andrews begin as ʼn huldeblyk aan sy pa Chris, wat in die 1950’s twee Ferrari’s met ʼn selfgeboude Studebaker Special geklop het tydens Suid-Afrika se eerste internasionale motorwedren ná die Tweede Wêreldoorlog.

Christina Andrianatos en Leigh Fredericks, Chris se kleindogters, se hul oupa se passie vir motorsport is aan hul oorlede pa Keith oorgedra wat self ʼn viermalige kampioenrenjaer vir die Westelike Provinsie Motorklub was.

Keith is verlede jaar op 22 September in die ouderdom van 68 oorlede.

“Hoewel die museum aanvanklik aan ons oupa toegewy is met sy trofees en toekennings wat ʼn belangrike tyd in Suid-Afrika se motorsportgeskiedenis voorstel, het dit geleidelik gegroei met ons pa se liefde vir motors en die bedryf in geheel,” sê Andrianatos.

“Hy wou bydra tot motorsportgeskiedenis deur meer wedrenmemorabilia uit te stal, en het gou ʼn passie vir seldsame F1-items en klassieke motors ontwikkel.”

Van die modelmotors en wedrenmemorabilia wat opgeveil word. (Foto: Verskaf)

Volgens Andrianatos was daar nie ʼn tyd in haar lewe waar modelmotors nie teenwoordig was nie.

“Toe ek ʼn kind was, het die versameling grotendeels uit Ferrari’s en F1-renmotors bestaan, maar oor die jare het dit uitgebrei om baie ander rariteite te bevat. My pa het spesifiek elke item gekies vir die plek wat dit in motorgeskiedenis gehad het,” sê sy.

Andrianatos skerts dat sy altyd gewapen was met ʼn lys van seldsame modelmotors wat sy moes opspoor wanneer sy oorsee gereis het.

“My pa het ook gereeld veilings bygewoon op soek na spesiale motors en sommige soektogte het jare lank geduur. Hy het egter nooit moed opgegee as hy op soek was na ʼn belangrike model wat broodnodig was vir die samehorigheid van die versameling nie.”

Andrianatos sê deur sy museum het haar pa ʼn tasbare manier gevind om sy passie en kennis van motorsport te deel.

“Hy was ʼn ware motorsport-ambassadeur, en ná hierdie veiling sal sy nalatenskap voortleef deur diegene wat hy geïnspireer het.”

Die veiling sal slegs aanlyn gehou word en bevat honderde items waarvan voornemende kopers kan kies.

“Die aanlyn veiling sal op Donderdag 28 Julie om 10:00 begin en duur tot Maandag 1 Augustus om 10:00,” sê hy.

“Al die items wat opgeveil word, sal tussen 09:00 en 13:00 op Saterdag 23 Julie en Sondag 24 Julie vir besigtiging beskikbaar wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.