Amptenare mag nie meer weier om dié pare te trou

(Argieffoto ter illustrasie: Unsplash)

Huweliksbevestigers wat in diens van die staat staan word nou wetlik verplig om pare van dieselfde geslag wat in die huwelik wil tree, in die huwelik te bevestig.

Pres. Cyril Ramaphosa het die Wysigingswetsontwerp op Burgerlike Verbintenisse die week onderteken en dit beteken staatsamptenare sal nie meer kan weier om burgerlike verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag te bevestig nie.

Staatsamptenare kon voorheen weier om paartjies van dieselfde geslag wettig getroud te verklaar weens morele, persoonlike of geloofsredes.

Die burgerlike organisasie Vryheid van Godsdiens in Suid-Afrika (FOR SA) het gesê hy het met ontsteltenis kennis geneem van Ramaphosa se ondertekening van die wetsontwerp. FOR SA het Ramaphosa vroeër versoek om sy grondwetlike prerogatief uit te oefen om die wet nie te onderteken nie, maar dit weer na die parlement terug te verwys vir heroorweging.

“Die wysigingswet is drakonies omdat dit die staat die mag gee om mense te dwing om dinge te doen wat strydig is met hul gewete, terwyl daar baie praktiese alternatiewe vir die staat beskikbaar was,” sê Daniela Ellerbeck, regsadviseur vir FOR SA.

“Die konstitusionele hof het reeds beslis dat niemand moet hoef te kies tussen gehoorsaamheid aan hul geloof nie (en moontlik ewige gevolge kan ly as hulle dit nie doen nie), of om die wet te gehoorsaam (en moontlik hul werk te verloor as hulle dit nie doen nie). Dit is gewetenloos dat die staat sy eie werknemers voor hierdie keuse stel.”

Die reg tot vryheid van gewete, godsdiens, denke, oortuiging en mening (artikel 15 van die Grondwet) is ’n fundamentele reg waarop almal, insluitende staatshuweliksamptenare, kan aanspraak maak, het FOR SA gesê. Verder het almal, insluitende staatshuweliksamptenare, ook die reg tot vryheid van onbillike diskriminasie op grond van godsdiens, gewete en oortuiging (artikel 9 van die Grondwet).

Een van die hoofredes waarom FOR SA die Wysigingswetsontwerp as ongrondwetlik beskou is omdat dit die gewetensbeswaar-klousule verwyder is, maar nie vervang is met enige ander meganisme wat staatshuweliksamptenare se menseregte in ag neem of daarvoor voorsiening maak nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.