‘ANC-korrupsie’ grootste gevaar vir toelae

(Argieffoto: ANA)

DA-leier John Steenhuisen het gekap na pres. Cyril Ramaphosa nadat hy die afgelope week aangevoer het maatskaplike toelae “gaan waarskynlik verdwyn” indien die ANC die verkiesing later vanjaar verloor.

“Die waarheid is presies die teenoorgestelde van Ramaphosa se bewering wat lyk na toenemende desperaatheid terwyl die ANC besef hy het minder as vyf maande oor in die regering.

“Die enkele, grootste bedreiging vir die volhoubaarheid van ons land se stelsel van maatskaplike toelae, is Ramaphosa se ANC.

“Vir byna drie dekades lank het hulle die openbare hulpbronne wat nodig is vir die finansiering van toelae, geplunder en gestroop. Namate die geld opdroog, is die ANC reeds gedwing om die begroting vir kritieke dienste soos onderwys en gesondheidsorg te besnoei.”

Lerato Ngobeni, woordvoerder van ActionSA, het ook Ramaphosa se “kwaadwillige en misleidende” bewerings verwerp en sê dit is kenmerkend van die regerende party wat hom nou wend tot “blatante leuens om ʼn verkiesingsnederlaag te verhoed”.

“Die ironie is dat die regerende party nie die maatskaplike toelae kan uitbrei nie, omdat hy Suid-Afrika uitermate in die skuld gedompel het terwyl sy amptenare openbare geld gesteel het. ʼn Toelaag van R350 is niks om te vier nie. ActionSA glo Suid-Afrikaners verdien meer.”

Steenhuisen sê die kindertoelaag, wat sowat 71% van die besteding aan toelae beloop, het die afgelope dekade in werklike terme ingrypend gedaal. Dit is jaarliks met so min as 2% verhoog, terwyl inflasie oor die afgelope tien jaar gemiddeld 5,2% beloop het.

Hy sê navorsers het bevind die toewysing “neem die kos uit babas se monde. Ná jare van verhogings wat minder as inflasie is, het die kindertoelaag tot 72% van die amptelike voedselarmoedelyn gedaal. Die beoogde verhoging van net R10 verteenwoordig ʼn 2%-toename in die toelaagbedrag, ver onder inflasie. Jaarlikse voedselinflasie het op 3 September 2022 op 12% gestaan. Die toelaag gaan minder koop en die gaping tussen die toelaag en die voedselarmoedelyn gaan al hoe groter word.”

“Dit is ironies dat Ramaphosa – dieselfde man wie se regering maatskaplike toelae aan die armes aktief besnoei omdat sy party die fiskus tot op die rand van bankrotskap geplunder het – die belangrike reddingsboei gebruik om doelbewus oneerlike politieke vrees te skep.”

Steenhuisen sê maatskaplike toelae is “nie immuun teen ANC-korrupsie nie” en die “plundering het reeds die kragstelsel verwoes, werkloosheid laat verhoog, basiese dienste laat ineenstort en instellings soos die polisie verswak.”

Ngobeni sê ook die betaling van toelae aan miljoene Suid-Afrikaners wat dit nodig het vir hulle oorlewing, is nooit iets om te vier nie en die enigste manier om van armoede ontslae te raak, is deur toegang tot werksgeleenthede uit te brei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Papsak ·

Ja nee kyk hulle weet hulle gaan probleme kry dalk nou om stemme te werf nou gebruik hulle die woord sassa dat hulle mense moet bang word en weer vir hulle stem die grootste korrupsie is die anc kry hulle uit

Nici ·

Kindertoelae moet stop of maksimum vir slegs een kind in ‘n vrou se lewe wees en die aftree-pensioen moet verdubbel.
Maak naskoolse opleiding en ambagte prioriteit en kry jongmense af van die verslawing van gratis geld.

Marcha ·

Ramaposa speel vuil, vertel mense dat Social grants en Nsfas wegal as ANC nie aan bewind is nie. Sies. Lieg sonder om n oog te knip. Asof Anc Sassa en Nsfas fund. Dits tax geld.

Johan ·

Stem saam met al die kommentare sover. Ons moet net dringend n weg vind om die massas te oortuig om nie weer vir hierdie korrupte onbevoegdes te stem nie.

Kiepie ·

En “toelae” is die grootste gevaar vir volhoubare groei en ontwikkeling in SA.

Jacobus ·

Kiepie ek stem 100% saam met jou stelling. Hierdie anc regime het nog altyd toelaes gebruik om stemme te koop en dit gaan hulle nog hard byt indien hulle hierdie verkiesing wen. Hierdie land kan eenvoudig nie al hierdie toelaes bekostig nie. Die land is lankal by bankrotskap verby.

koos10 ·

Die ANC maak staat op die onkunde van die kiesers. Hulle doen dit al vir jare. Kyk hoe gaan name in die volgende maande ook verander. Ek sou wou sien dat enige persoon onder 65 en fisiese gesond, moet werk vir ‘n toelaag. Tans werk ek my alie af, sodat hierdie persone my belasting geld verniet kry. Dis absurd. Hulle moet parke gaan skoonmaak of sypaadjies vee, dis hoe hulle dan geld kan verdien. SA moet by Uganda gaan leer.

Johann ·

Nee nee Cerohl. Jy en jou ANC korupte kader vreet trog kamerade betaal vir julle stemkoop grants met RSA BELASTING!!!!! NIE DIE ANC NIE!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.