ANC nie gepla oor Nene se nuwe pos

Nhlanhla Nene, die voormalige minister van finansies, lewer op 25 Februarie 2015 sy begrotingsrede in Kaastad Foto: Ntswe Mokoena, departement van kommunikasie

Nhlanhla Nene, die voormalige minister van finansies, lewer op 25 Februarie 2015 sy begrotingsrede in Kaastad Foto: Ntswe Mokoena, departement van kommunikasie

Die ANC was Maandag nie gepla oor die nuus dat Nhlanhla Nene, die voormalige minister van finansies, by die beleggingbesturingmaatskappy Allan Gray aangesluit het nie en het gesê daar is “verskeie redes” waarom staatsamptenare by die private sektor aansluit.

Dit kom nadat die maatskappy Maandag bevestig het dat Nene as ʼn nie-uitvoerende direkteur aangestel is. Ian Liddle, voorsitter van Allan Gray, het in ʼn verklaring gesê die maatskappy sien uit om Nene se strategiese bydrae op die raad te hê.

“Ons is bly om iemand met mnr. Nene se ervaring op die raad te hê en ons is dankbaar dat hy die aanstelling aanvaar het. Ons sien uit na sy strategiese en leierskapsbydrae op die raad.”

Nene is in Desember verlede jaar onverwags deur pres. Jacob Zuma uit sy pos as minister van finansies afgedank slegs twee jaar nadat hy die stuur by die tesourie oorgeneem het. Zuma het kort ná die afdanking gesê Nene is gekies as die land se kandidaat vir ʼn pos by die Afrika-afdeling van die nuwe Brics-ontwikkelingsbank. Nene het egter later gesê hy dra geen kennis van die Brics-pos nie.

Enoch Godongwana, hoof van die ANC se komitee op ekonomiese transformasie, het Maandagmiddag in ʼn onderhoud op Radio 702 gesê hoewel Nene se vaardighede en ervaring gemis sal word, is daar verskeie redes waarom voormalige staatsamptenare poste in die private sektor aanvaar.

“In sommige van die ontwikkelende lande is daar ʼn beweging tussen die private sektor en die openbare sektor; die deel van vaardighede is opsigself nie ʼn probleem nie, maar dit word ʼn probleem wanneer jy beperkte vaardighede in die openbare sektor beskikbaar het,” het Godongwana aan die radiostasie gesê.

“Vanuit ʼn beleidperspektief gaan ons nie mnr. Nene mis nie, want ons kan hom enige tyd nooi om deel te neem aan ʼn debat oor beleid.”

Godongwana het bygevoeg dat daar “inherent niks verkeerd is” met die ANC wat sy lede na instansies soos die Brics-ontwikkelingsbank ontplooi nie en dat Nene dalk gevoel het sy ontplooiing neem te lank.

Intussen het die DA die nuus van Nene se aansluiting by Allan Gray verwelkom en hom gelukgewens met sy nuwe pos. David Maynier, die DA se skaduminister van finansies, het in ʼn verklaring gesê Nene is “skokkend behandel” deur Zuma en die ANC.

“Die bewering dat hy in ʼn posisie by die Brics-bank aangestel sal word, blyk nou ʼn blatante leuen te wees. Die voormalige minister het sy bes gedoen om die regte ding te doen en die fort te hou by die nasionale tesourie. Ons wens hom sterkte toe in sy nuwe pos en hoop dit is nie te lank voor hy terugkeer na die openbare lewe in Suid-Afrika nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Jordaan ·

Die ANC is oor niks gepla behalwe om die leierskap se sakke vol te stop nie.

Lance ·

Verbaas my gladnie …hulle is dan nie eers gepla om basiese goed te doen soos bv. om strate te vee of om mens se veiligheid selfs te probeer verseker nie….tragies ! So belangrik dat almal gaan stem ….elke bq help

Fransie ·

Verskeie redes om oor te gaan na die privaat sektor?! Beslis ja, beter en eerliker werk etiek.

Willie ·

Kan nie daar so maklik geld verdoesel en die hele familie aanstel nie..

Dee ·

As hy lid van die AN bly is hy tevrede met wat gebeur het want hy ondersteun die groep steeds.

Koos1 ·

Verskeie redes, ja ek kan dit glo, maar daar is nie baie werksaansoeke wat so kan lees nie:
Hallo, ek is Mnr. N. Nene. Ek was “CFO” van ‘n baie groot maatskappy. Ek is op soek na ‘n nuwe pos, want ek is skielik werkloos. My vorige bestuurder het my afgedank, en tydens my afdanking vir die direksie gelieg oor waarom hy my afdank. Ek is afgedank omdat hy my ‘n ander pos wou gee buite sy maatskappy, maar dit is nooit met my bespreek nie en dit is vir my deur die maatskapy se nuusbrief vertel. Ek vermoed egter ek is afgedank want ek wou die regte ding doen en die maatskappy miljoene rande spaar, maar dit was nie in die plan van my bestuurder nie. Hy het ‘n “vriendin” iets belowe waarvoor ek moes pa staan en ek het geweier. Verder wou hy ook “kragopwekkers” koop wat in Rusland vervaardig is, en ek het vir hom gese daar is nie geld of behoefde om dit te doen nie. En nou is ek werkloos. Kan julle dalk vir my ‘n pos iewers beskikbaar stel?

Lance ·

Pla hulle nie eers as JZ openlik steel van die staat en ons almal uitlag …wat sal Nene hulle nou pla …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.