ANC nomineer Thandi Modise as speaker

Thandi Modise. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die ampstydperk van Baleka Mbete as speaker van die Nasionale Vergadering is eindelik verby, en alles dui daarop dat die huidige voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, Thandi Modise, Woensdag in haar plek tot speaker verkies kan word.

Modise is bekend as ‘n uiters streng voorsitter met min geduld, wat spesifiek dikwels die parlementêre uitsmyters ingeroep het om hardhandig teen die EFF op te tree wanneer die party se lede opruiend opgetree het.

Sy word in hierdie stadium redelik wyd as ʼn relatief onpartydige hoewel kortgebakerde voorsitter met ‘n vurige humeur gerespekteer, en kan ‘n verbetering op die uiters partydige Mbete wees.

Modise sal egter vind dis moeiliker om die 400 lede van die Nasionale Vergadering te beheer as die 54 voltydse lede van die Nasionale Raad van Provinsies.

Modise se rekord as stryder vir vroueregte oorskadu haar rekord as stryder vir diereregte. Sy het vergrype teen vroue in die ANC tydens die bevrydingstryd om demokrasie vreesloos aan die kaak gestel, maar was enkele jare gelede diep in die pekel na afgryslike gebeure op haar plaas naby Potchefstroom, waar talle plaasdiere in die haglikste omstandighede weens verwaarlosing gevrek het.

Verdere nuus uit Noordwes is dat die ANC se nasionale leierskap besluit het om Job Mokgoro te benoem vir nog ‘n termyn as premier van Noordwes. Dis ‘n oorwinning vir pres. Cyril Ramaphosa en sy ondersteuners, en ‘n besliste nederlaag vir Ramaphosa se teenstanders, want Mokgoro bevind hom in Ramaphosa se kamp in ‘n provinsie waar baie mense meen oudpremier Supra Mahumapelo (geen vriend van Ramaphosa nie) swaai maar steeds die septer agter die skerms.

Nou moet Mokgoro nog net Woensdag in die provinsiale wetgewer in Mahikeng die steun van die meerderheid lede van die wetgewer (en spesifiek ‘n verdeelde ANC) op hom verenig. As die opposisie ‘n kandidaat stel en ‘n geheime stemmery afdwing, kan dinge dalk net interessant raak.

Voorts het die ANC verras deur ‘n stillerige Oos-Kaapse LP, Penny Majodina, as die party se hoofsweep in die Nasionale Vergadering aan te stel om die groot skoene van die gerespekteerde Jackson Mthembu vol te staan. Mthembu is die eerste ANC-LP in die geskiedenis om ‘n volle termyn van vyf jaar as hoofsweep te oorleef, en gerugte is dat hy met ‘n kabinetspos beloon gaan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Andreas ·

Op die veld gaan dit nou in ‘n skreeuwedstryd ontaard, sy teen die EFF wat nou opgepomp is met ‘n klomp ekstra setels. Grofgeskud is dalk al wat hulle in toom sal hou. Al skrouende debateer ons die sake van die land.

Gert van Wierdapark ·

Modise se gruwelike verwaarlosing teenoor die diere op haar plaas naby Potch moet nog in die hof afgehandel word. Sy ontglip mos elke keer om op te daag. Dis tyd dat haar tjank afgetrap word oor die skandalige dieremishandeling. Sommige van die “fat cats” weet waarskynlik nie wat die woord omgee beteken nie. Die arme stemvee wat weer vir die a en see gestem het, gaan seker ook maar WEER op die harde manier leer dat “krummels” hul voor- land gaan wees!

Jacques die Goodwoodianer ·

Krummels is hul voorland maar ten minste wag daar ñ voedselpakkie en R100 nét so voor die volgende verkiesing… vir ñ handjievol gelukkige wenners.

Dries du Toit ·

Die feit bly staan dat sy n afskuwelike daad gepleeg het en dit is opsig self n goeie rede om haar in die tronk te stop. Hierdie bewys net dat die ANC kriminele geen maar geen respek het vir lewe nie. Ek is siek van bekommernis oor wat gaan word van die kinders wat in hierdie land moet groot word. Net ou Papenfus kan nog hoop he

Jacques die Goodwoodianer ·

Ons bid vir ons kinders se toekoms. God sal voorsien. Ons moet net volhard, glo en die beste doen vir hulle.

ADT ·

Daar is so baie afrikaner seuns met landbou kwalifikasies wat begeer om n plaas te hê om te boer en sy liefde vir diere uit te leef. Dan kom daar n vrou wat teer op die belasting van die land en bekom n plaas met honderde diere om hulle blatant afskuwelik te laat vrek van honger en dors. As vergoeding gaan sy nou die oarlement lei op verdere onkoste van die belastingbetaler. Siek is nie die woord nie. Here help ons

Petro ·

Die diere mishandelaar?? Regtig…. Bottom of the barrel…

Aha ·

En net daar is die eerste teleurstelling. Sy moet inderdaad tronk toe vir dieremishandeling. Ons begin sien hoe CR se planne lyk. Tot dusver is dit maar skokkend.

Piet ·

Niks wat CR doen verbaas my nie – hy het van die begin af elke keer net gesê wat sy gehoor wou hoor – of dit nou boere of studente of oud stryders was. Ons moet seker dankbaar wees hy het nie vir Mantashe aangestel nie – nog ‘n siel wat ek nie kan vertrou nie.

Trol ·

Mantashe (en almal wat gehoor gee) verdien presieswat hy aan die (wit) 55plusser uitdeel. Mog dit waar word.

Die Verlore Skaap ·

Weereens n bewys dat die ANC n klomp kriminele is wat mekaar uithelp.
Siek

Boerboel ·

Ek lees almal se kommentaar hier bo, met skok besef ek die vrou is die diere moordenaar. Ek is besig om n’ stukkie biltong te kerf en sny my duim raak. Die pyn vloei deur die duim maar die pyn in my duim is nie so erg soos die pyn om die een te sien as die speaker van die parlement nie.

Henry ·

Als sal net van tafel af gevee word. Daar sal niks met haar gebeur nie. Die regstel van Suid-Afrika is in die hande van die korupte elite. Ek was jou hande dan was jy my hande

Kallie ·

Daar is nou aansienlik meer EFFs in die parlement. Die Withemde se getalle ook moet verdubbel.

CHAPPIES ·

PUIK…keuse! ? Sy weet def hóé om allerlei diere te hanteer en te laat omkom as sy moegraak vir hulle…

Jeremia ·

Iemand wat hoegenaamd nie ‘n hart vir diere het nie sowaar steeds in kalklig!
Elders sou dit uiteraard nie geduld gewees het nie.
Maar hier ter plaatse geld vreemde maatstawwe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.