ANC nuwe topsewe bekend

President Cyril Ramaphosa glimlag breed na sy herverkiesing as ANC president (Foto: Marco Longari / AFP)

Die ANC se topsewe leiers is Maandagoggend bekendgemaak en pres. Cyril Ramaphosa is opnuut aan stuur van ANC-sake.

Afgevaardigdes het Sondagaand tot laat gestem en groot politieke onderhandeling het geheers om provinsiale afvaardigings se steun te finaliseer.

Altesaam 4 436 afgevaardigdes is tydens die konferensie as stemgeregtigdes geregistreer. Daar is tydens die stemming 4 386 stemme uitgebring met 4 384 stembriewe wat getel is.

Twee stembriewe is gekonfiskeer nadat kiesers foto’s van hul stembriewe geneem het. Hierdie stembriewe is volledig onttrek, siende dat dit teen konferensieregulasies indruis.

President

Ramaphosa het die posisie van partypresident behou in ʼn oorwinning van 2 476 stemme teenoor sy teenstander dr. Zweli Mkhize se 1 897.

Ramaphosa se oorwinning is met groot toejuiging begroet. Afgevaardigdes het in luide sang en dans uitgebars soos wat Ramaphosa sy oorwinningspad na die verhoog gemaak het. Verkiesingshoof en oudpres. Kgalema Mothlante het die skare moeilik stilgekry om met die aankondigings voort te gaan.

Daar was vir die posisie van president vier bedorwe stembriewe met sewe afgevaardigdes wat buite stemming gebly het.

Adjunkpresident

Die huidige tesouriergeneraal van die ANC, Paul Mashatile, het die stryd om die adjunkpresidentskap gewen met 2 178 stemme. Oscar Mabuyane, premier van die Oos-Kaap, het net-net verloor met 1 858 stemme. Ronald Lamola, minister van justisie, het egter slegs 315 stemme gekry.

Mashatile se oorwinning is ook met ʼn enorme toejuiging begroet.

Vir hierdie posisie was daar tien bedorwe stembriewe met 23 afgevaardigdes wat buite stemming gebly het.

Nasionale voorsitter

Die stryd om nasionale voorsitter is naelskraaps deur Gwede Mantashe, huidige ANC , gewen met 2 062 stemme. Stanley Mathabatha het naelskraap verloor met sy 2 018 stemme. David Masondo het egter heel uit die bus geval met ʼn karige 280 stemme.

Mothlante moes hierdie uitslae herhaal ter wille van duidelikheid. Die skare het nie in eensydige ekstase uitgebars hieroor nie, hoewel Mantashe se ondersteuners groot gejuig gemaak het.

Altesaam 11 bedorwe stembriewe is uitgegooi met 13 afgevaardigdes wat buite stemming gebly het.

Sekretaris-generaal

Die stryd om die posisie van sekretaris-generaal was eweneens fel, met Fikile Mbalula wat gewen het met 1 692, teenoor Phumulo Masualle se 1 590 en Mdumiseni Ntuli se 1 080.

Dié resultate is met gemengde reaksie vanuit die gehoor ontvang.

Hier is sewe stembriewe uitgegooi met 15 afgevaardigdes wat buite stemming gebly het.

Adjunk-sekretaris-generaal 1

Die stryd om eerste adjunk-sekretaris-generaal was veel meer gelykop as wat verwag is. Nomvula Mokonyane, wat aanvanklik die enigste benoemde was, het gewen met 2 195. Tina Joemat-Pettersson, wat tydens die konferensie van die vloer af benoem is, het 2 145 stemme gekry.

Uiters gemengde reaksie is hierop ontvang met die skare se enersydse gejuig en die andersydse ongelukkige gedruis duidelik hoorbaar. Mokonyane het op die verhoog ʼn effe koue en saaklike gelukwensing van Ramaphosa ontvang.

Net vyf stembriewe was bedorwe en 36 afgevaardigdes het buite stemming gebly.

Adjunk-sekretaris-generaal 2

Vir dié posisie het Maropene Ramokgopa 2 373 stemme teenoor dié van Ronalda Nalumango se 1 948 behaal. Die skare wat duidelik ekstaties oor hierdie oorwinning.

Hoewel slegs sewe stembriewe bederf is, het 56 afgevaardigdes buite stemming gebly.

Tesourier-generaal

Vir hierdie posisie was die stemme vreeslik verdeel met vier kandidate wat aanvanklik verkiesbaar was.

Benjamin Chauke het 590 stemme gekry. Pule Mabe, huidige partywoordvoerder, het 1 652 stemme ingewin. Mzwandile Masina het ʼn skamele 281 stemme gekry met Gwen Ramokgopa wat met 1 809 stemme gewen het.

Die skare het gemengde reaksie oor dié uitslag getoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.