Die ANC het berigte dat hy Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die party, uit sy posisie wil verwyder as “vals, moedswillig en kwaadwillig” beskryf.
ʼn Spesiale vergadering van die party se nasionale uitvoerende komitee (NUK) vind tans in Irene, Pretoria, plaas. Zizi Kodwa, woordvoerder van die ANC, het gesê die bewerings word deur “naamlose en gesiglose” bronne gemaak.
“Hierdie gerugte word versprei om verwarring en verdeeldheid binne die beweging te saai en is ʼn aanduiding van die media se totale verontagsaming van behoorlike joernalistieke etiek ten gunste van populisme en sensasie.”
Kodwa het gesê daar sal na afloop van die spesiale vergadering terugvoer gegee word oor wat alles bespreek is. Van die gesprekspunte is onder meer die krisis in die Oos-Kaap nadat die provinsiale konferensie in chaos ontaard het. Die organisasieverslag wat tydens die komende verkiesingskonferensie in Desember ter tafel gelê sal word, word vandag bespreek.
“Die ANC doen ʼn beroep op sy lede, ondersteuners en Suid-Afrikaners om die waansin van fopnuus deur sogenaamde mense in die binnekring en ontleders te verwerp en te weerstaan en eerder te wag op amptelike kommunikasie van die NUK oor die uitkomste van hierdie spesiale vergadering,” het Kodwa gesê.
Daar is onder meer die naweek berig dat Cyril Ramaphosa vir Mantashe as voorsitter van die ANC se topses sal aanstel indien hy tydens Desember se verkiesingskonferensie as Zuma se opvolger gekies word. Mantashe het glo ook die naweek tydens die vergadering onder skoot gekom rakende uitsprake oor die Oos-Kaap se konferensie en die krisis in KwaZulu-Natal nadat die hooggeregshof in Pietermaritzburg beslis het die provinsiale verkiesingskongres in 2015 was onwettig.
Kan die trop nog meer deurmekaar raak? Ek glo nie…
Die ANC ontken altyd alles
Waar daar ‘n rokie trek…
Kodwa, weet jy wat is etiek? Want duidelik weet die NUK van die ANC nie wat dit is nie. Maar om dit maklik te maak, enige persoon wat eties optree, sou al vir zuma uitgeskop en in ‘n hof gesit het om homself en die biljoene wat uit hierdie land en sy staatskas verdwyn, te verduidelik.