ANC-regering ‘verleentheid’ vir Afrika – VF Plus

Pres. Cyril Ramaphosa sê die instelling van nog ‘n ramptoestand – dié keer om die beurtkragkrisis te pak – word oorweeg. (Foto: ANC/Twitter)

Suid-Afrika word toenemend ʼn verleentheid vir Afrika as handelsbestemming en stel selfs die vryhandelsooreenkoms tussen Afrika-state in gevaar.

Só meen die VF Plus na aanleiding van ʼn brief waarin Amerikaanse wetmakers vra dat die forum oor die Afrika-groei-en-geleenthedewet – bekend as Agoa – wat veronderstel is om later vanjaar in Suid-Afrika aangebied te word, dalk eerder na ʼn ander Afrika-land geskuif word.

Die versoek dien as waarskuwing teen Suid-Afrika se oënskynlike steun aan Rusland in sy konflik met Oekraïne, ten spyte van die regering se versekering dat hy ʼn onverbonde standpunt daaroor inneem.

Suid-Afrika loop ook die gevaar dat die Agoa-ooreenkoms nie in 2025 heroorweeg word nie.

“Die regering het met irrasionele beleidsrigtings, swak regering, staatskaping en korrupsie Suid-Afrika in ʼn uiters benarde situasie laat beland waar beleggersvertroue daal en die hoop op ekonomiese groei en werkskepping skraal is,” sê Jaco Mulder, die VF Plus se woordvoerder oor handel en nywerheid.

“Terwyl Suid-Afrikaners toenemend met ná-belaste geld moet intree waar die staat misluk, die waarde vir belastinggeld minder raak en werkloosheid toeneem, dwing die ANC-regering met irrasionele wetgewing en optrede ʼn groter sosialistiese invloed deur die staat op elke Suid-Afrikaner af.

“Die aanvaarding van die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg in September verlede jaar, die Wysigingswet op Diensbillikheid, asook die wetgewing oor nasionale gesondheidsversekering onteien Suid-Afrikaners van goeie gesondheidsorg en skep ʼn negatiewe klimaat vir beleggersvertroue en ekonomiese groei.”

Mulder meen Suid Afrika kan geen bevoorregting van die internasionale gemeenskap verwag nie en sal mededingend moet presteer om sy posisie in die internasionale sake- en handelsgemeenskap te behou.

“Die ANC-regering is nie in staat om Suid-Afrika op ʼn wenpad te plaas nie en Suid-Afrikaners moet die 2024-verkiesing benut om die ANC met ʼn veelparty-koalisieregering te vervang.”

Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) het Dinsdag gesê hy is bewus van die brief en het dit duidelik gestel dat nog géén besluit geneem is om die forum in ʼn ander land aan te bied nie. Suid-Afrika sal volgens Dirco steeds gasheer in November vir die Agoa-forum speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Marius ·

Mense wat dink hulle is smart is nie altyd so smart nie , vra die anc.
Hou op lieg vir die res van die wereld oor julle verskuilde agendas.

Eugene ·

Die ramp-phosa regering, is n” verleentheid vir die “WERELD”. nie net vir afrika nie. Hulle fire de Ruyter, nou is daar eers meer beurtkrag.

Papsak ·

Ja hulle dink hulle is slim hulle jaag De Rhyther weg nou gaan dit honderdmaal swakker met eskom so jammer ne

Carl ·

Cyril en sy kaders het ons land leeg gesteel, bedrieg en vernietig. Maar daar is baie hoop. Die boere het hom gebou met hulle arbeiders en mense en ons kan en sal dit weer doen.

Republikein in die Wes Kaap ·

Jou positiewe gees is prysenswaardig. Landbou is tans net 2% van die BBP. In die 1920s was dit 30%. Mynbou was destyds 50% van die BBP, nou is dit skaars 7%. Ons ekonomie steun grotendeels op dienste en vervaardiging. Vir daai sektore benodig die land kundige mense en baie kapitaal. Ongelukkig word wittes nou ook uit die ekonomie verban.

Marthinus W ·

Afrika is besig om van Amerika af weg te beweeg, en dis nie n illusie nie. CHina en Rusland is baie bedrywig, bv n paar km suid van Kairo word n nuwe sakekern gebou, met die hoogste gebou in Afrika; Egipte het hierdie week formeel aansoek gedoen om toelating tot Brics. In Zimbabwe is n nuwe 6-verdieping parlementsgebou gebou. Brics stuur werkers en bouers en argitekte in Afrika in; Amerika stuur soldate.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.