Agoa-forum gaan nêrens, kap Dirco terug op brief

Clayson Monyela. (Foto: GCIS)

Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) is bewus van die brief waarin senior Amerikaanse wetgewers die Withuis vra om die forum oor die Afrika-groei-en-geleenthedewet – bekend as Agoa – wat veronderstel is om later vanjaar in Suid-Afrika aangebied te word, na ʼn ander Afrika-land te skuif.

Clayson Monyela, Dirco-woordvoerder, het dit Dinsdag duidelik gestel dat nog géén besluit geneem is om die forum in ’n ander land aan te bied nie en dat Suid-Afrika steeds gasheer in November sal speel.

Monyela sê spesiale gesante van pres. Cyril Ramaphosa het onlangs die VSA besoek om Suid-Afrika se onverbonde standpunt oor die konflik tussen Rusland en Oekraïne aan belanghebbendes en besluitnemers te verduidelik.

Ramaphosa lei boonop in die komende dae ’n Afrika-vredesending na Rusland en Oekraïne.

“Suid-Afrika geniet die Amerikaanse regering en die Africa Group & Business se steun as gasheer van die Agoa-forum wat vir November beplan word. Die betrekkinge tussen Suid-Afrika en die VSA is wedersyds voordelig … selfs in die konteks van Agoa,” sê Monyela.

Emma Louise Powell, die DA se woordvoerder oor internasionale betrekkinge en samewerking, sê egter die Amerikaanse wetgewers se versoek is die duidelikste aanduiding nóg dat Washington se geduld met Suid-Afrika besig is om op te raak.

“Die ANC-regering staan voor ʼn duidelike keuse: Veroordeel Rusland se oorlog in Oekraïne of loop die gevaar om duisende werksverliese te veroorsaak en die ekonomie skade te berokken.

“Wat Suid-Afrika in die volgende paar dae doen, sal die verskil beteken tussen ekonomiese chaos, of die behoud van wat in werklikheid die land se belangrikste handelsalliansie is,” sê Powell.

Foto: Flicker/GovernmentZA

Sy sê dat Suid-Afrika tot R60 miljard in uitvoere én ʼn positiewe handelsverhouding kan verloor weens sy knus verhouding met Rusland.

“Die VSA en Suid-Afrika se langdurige verhouding is gegrond op die beginsel van weldoening. Hoewel China inderdaad Suid-Afrika se grootste handelsvennoot in enkele provinsies is, is hierdie verhouding nie op weldaad gegrond nie.”

Suid-Afrika se handelstekort aan China het verlede jaar R177,89 miljard beloop terwyl handel met Rusland so min as 0,3% van Suid-Afrika se geheel uitmaak.

“Dit is nie net syfers nie, dit is ʼn brood-en-botter-realiteit vir miljoene Suid-Afrikaners,” sê Powell.

“Agoa se [moontlike] uitsluiting van Suid-Afrika sal duisende sakeondernemings, plase en werksgeleenthede vernietig – en diegene wat in Suid-Afrika se sukses belê, moet alles in ons vermoë doen om te verhoed dat dit gebeur.”

Suid-Afrika se Agoa-ooreenkoms verval in 2025 en die VSA sal dan moet besluit of hy die ooreenkoms met Suid-Afrika gaan voortsit, wysigings gaan aanbring, of in die geheel wil skrap.

Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling by die Solidariteit Beweging, sê hy sal nie verbaas wees indien Suid-Afrika reeds volgende jaar sy Agoa-voordele kwyt is nie.

Die Agoa-ooreenkoms bied aan kwalifiserende Afrika-lande suid van die Sahara belastingvrye toegang tot die Amerikaanse mark vir meer as 1 800 produkte. Dit is benewens die meer as 5 000 produkte wat in aanmerking kom vir belastingvrye toegang onder die algemene stelsel van voorkeure-program.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

JohanEtz ·

“Gasheer sal speel”
Dis van heeltyd speel en geen werk wat SA in sy kanon in is…..wie bluf hulle?

Lourens ·

“Ramaphosa lei boonop in die komende dae ’n Afrika-vredesending na Rusland en Oekraïne”
Nie eers in SA het hierdie BEE miljardêr enige geloofwaardigheid in opgevoede en ingeligte kringe nie. Waarom dink enigiemand hy gaan enige invloed kan hê op Zelensky en Putin of enigiets kan vermag daar? Pure grootheidswaan, hierdie “vredesending”.

En DirCo moet maar net kans gee. Hulle het geen werklike sê oor die aangeleenthied nie. En wanneer die Republikeine en die Demokrate saamstaan oor ‘n ding, gaan hy dalk net gebeur.

Harley Davidson ·

Jy kan nie jou brood aan albei kante gebotter kry nie ,die regime sal ‘n besluit moet neem en staan by die nagevolge van hulle besluit.

Stefan ·

South Africa is not the ANC and the ANC is not South Africa – the value set gulf between the ANC and mainstream SA is just to wide, after all both domestically and internationally there is increasing acceptance that the ANC is a criminal cabal that has turned SA into a failing state – with commensurate political clout. The Lady R saga and ensuing AGOA fallout presents opportunity – now is the time for the opposition to drive home to the international community (of similar political/economic values) that the ANC is a common adversary and as a de facto illegal regime needs to be punished for its domestic devastating criminality and divisive racism and its foreign dishonesty and duplicity. Cancelling AGOA will undoubtedly hurt SA (us), calling for US targeted sanctions on ANC individuals will undoubtedly hurt them.

Jaco ·

Ek hoop ramaphosa doen darem nog 1 ding op AGOA: President Biden en sy hoogheilige Demokrate het so ‘n mooi mooi oop “human rights” georiënteerde oop immigrasiebeleid. Ek wonder net, dít kan mos ook tot SA se onderdrukte wit mense se voordeel wees: ramaphosa kan al SA se “rassistiese” wit mense wat so “erg ongelykheid” in SA skep, mos na die “oop” Amerika deporteer. En Biden sal dan so min of meer verplig wees om ons in te vat. Dit sal mos nou mooi wys hoe sy “non-racial, non-discriminating human rights” werk.

Johann ·

Vermetelde arrogansie wat ons ekonomie aan stukke ruk, selfde as wat die onbesonne ANC kaders dink hulle bo gevolge sit. Bloot geen verandwoordbaarheid nie

Hannes ·

Gedurende die sogenaamde “Apartheid” het Amerika sanksies gebruik om die NP te “straf”, nou sien hulle wat die ANC werklik is, hier kom weer sanksies.

Daizee ·

Ramaphosa is met Rusland en Kie besig terwyl sy eie huis brand!! Oom Cyril ons het boggerôl verloor buite ons landgrense op dié stadium!!!!!!!

Blikkantien ·

“Monyela sê spesiale gesante van pres. Cyril Ramaphosa het onlangs die VSA besoek om Suid-Afrika se onverbonde standpunt oor die konflik tussen Rusland en Oekraïne aan belanghebbendes en besluitnemers te verduidelik.”

Die ANC moet nie nder lande se intelligensie onderskat soos wat hulle hier probeer doen en regkry nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.