ANC se ‘verwoestende bemagtigingsnet’ al wyer gegooi

(Foto: Unsplash)

In Maart vanjaar het die reguleringsowerheid vir eiendomspraktisyns (PPRA) sy voorneme verklaar om die uitreiking of hernuwing van Fidelity Fund-sertifikate vir sakeondernemings met minder as 40 punte (vlak 8-tellings) op die swart ekonomiese bemagtig- telkaart te weier.

Maroela Media het vroeër berig dit sal swart eienaarskap van meer as 50% van ondernemings vereis. Grootskaalse werksverliese in die eiendomsektor dreig dus indien streng rassereëls as voorwaarde vir die uitreik van getrouheidsfondssertifikate nie verhoed word nie.

Michael Bagraim, die DA se woordvoerder oor indiensneming en arbeid, sê die Wet op Eiendomspraktisyns verplig alle “eiendomspraktisyns” om ʼn getrouheidsfondssertifikaat te hê.

“In werklikheid wil die PPRA dit dus onwettig maak om ʼn eiendomsverwante besigheid te bedryf, tensy jy aan die Wet op Breedgebaseerde Swart Ekonomiese Bemagtiging (BBBEE) voldoen.”

Hy sê dit is ʼn eksistensiële bedreiging vir die bedryf. Dit is meestal klein en mediumgrootte bedrywighede wat geteiken word. Dié ondernemings verteenwoordig ʼn groot aantal van die meer as 40 000 eiendoms- en verhuringsagente in Suid-Afrika.

“Die versuim om aan die PPRA se eise te voldoen kan hierdie besighede aan aansienlike regskoste en die risiko om hul bedryfslisensies te verloor onderwerp.”

Bagraim meen die vereiste is “onwettig, skadelik en ongrondwetlik”.

“Politieke nakoming moet nooit ʼn voorvereiste wees om private sake te bedryf of waarde tot die samelewing te voeg nie.

“Dit is onregverdig dat eiendomseienaars en voornemende kopers deur staatsgedrewe rassevoorvereistes verbied word om aan eiendomstransaksies deel te neem.”

Bagraim sê dit is skandelik dat die ANC weer poog om BBBEE-sertifikate as ʼn politieke instrument te gebruik.

“Hierdie verwikkeling verteenwoordig die ANC se derde fase van die laakbare rasmalheid van ons wetgewende raamwerk.

“In die 1990’s het ons toenemend kruisrassige saketransaksies sonder wettige mandate gesien.

“Die tweede fase in die vroeë 2000’s is breedweg gekenmerk deur die Wet op Breedgebaseerde Swart Ekonomiese Bemagtiging en die Wet op Voorkeurverkrygingsbeleidsraamwerk – dit het organisasies genoop om aan SEB te voldoen om transaksies met die staat te kan doen.”

Hy sê die afgelope vyf jaar het ʼn derde, selfs meer aggressiewe fase, die lig gesien.

“Van boerderypraktyke tot eiendomsverkope, die ANC poog voortdurend om hierdie rassevereistes af te dwing – nie net meer met staatsake nie, maar alle kommersiële aktiwiteite en professionele lisensiëring.”

Bagraim sê dié universele afdwinging sal alle ekonomiese aktiwiteite aan die ANC se politieke toesig onderwerp.

“Dié rassediskriminasie op ʼn ongekende skaal herinner ons sterk aan die apartheidsera. Die motief van die regerende party het al hoe duideliker geword – om te verdeel en te heers terwyl hulle moontlik hul meerderheid stemme in die 2024-verkiesing gaan verloor.”

Hy sê die DA sal hierdie perverse pogings van die ANC teenstaan.

“Ons sal nie toelaat dat die ANC sy kru beleid wat inisiatiewe teenstaan verder implementeer nie, beleid wat die wêreld se hoogste werkloosheid-, jeugwerkloosheid- en ongelykheidskoers verskans.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Theuns ·

Net moontlik omdat almal BUIG voir die obderdrukkers!
Bedryf bedigheid van huis buite sisteem met NET bevoegdes en laat kaders in hul …vlieg.
Skep 2de ekonomie waar regime se stelende vingers nie rol speel.
Soos taxibedryf. Soos bou.mafia.
Gee hul wat hul vra..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.