ANC-veteraan trek bedanking terug

Mavuso Msimang. (Foto: Facebook / Mavuso Msimang)

Mavuso Msimang, die ANC-veteraan wat verlede week aangekondig het dat hy sy lidmaatskap van die ANC opsê, het sy bedanking teruggetrek “ná ʼn konstruktiewe vergadering met Fikile Mbalula, die ANC-sekretaris-generaal”, volgens ʼn verklaring van dié party.

Die ANC se Veteraneliga het die vergadering gefasiliteer.

Msimang (82), wat al 60 jaar lid van die party is, het verlede week bedank vir redes wat met “endemiese korrupsie” in die party verband hou, aldus ’n berig deur News24.

Msimang is bekend vir sy sterk standpunte teen staatskaping en korrupsie – selfs binne sy eie party. Hy het die redes vir sy bedanking in ʼn brief van vier bladsy neergepen wat hy aan die ANC en koerant City Press gestuur het.

Die ANC het Donderdag op sosiale media om verskoning gevra vir die wyse waarop die party Msimang se bedanking in die openbaar hanteer het.

Die party het in besonder verskoning gevra vir kommentaar wat deur Mbalula gemaak is en wat Msimang se integriteit in twyfel getrek het.

Mbalula het by Msimang se bedanking onder meer daarop gesinspeel dat Msimang “vatbaar is om deur ʼn nuutgestigte party omgekoop te word” – uitlatings wat Mbalula glo nou berou.

Die party sê hy is verlig dat Msimang sy bedanking teruggetrek het, en dat Msimang sal voortgaan om enige ongerymdhede aan die groot klok te hang.

“Die ANC sal voortdurend die wyse raad van die oudstes in die ANC nastreef in wie se voetspore ons nou volg,” het die party gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.