ATKV Goudini het iets vir oud én jonk

Die uitsig van ‘n Slanghoekvilla se stoep. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Dit is ʼn laatmiddag in die Boland en ek is poegaai ná ʼn lang én warm dag in die Moederstad.

Ek skop my skoene uit en skink vir my ʼn koue glas chenin blanc. Ek bevind myself immers ná skaars ʼn uur se ry uit Kaapstad, noord deur die Hugenote-tonnel, in chenin-wêreld: die Breedekloofvallei.

ATKV Goudini Spa is in die hartjie van die Bolandse berge geleë. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Soos ek op die koel stoep van die Slanghoekvilla sit, skuif die son skugter agter die Slanghoekberge in.

Ek het onlangs die voorreg gehad om vir twee dae lank in die helende water van die ATKV Goudini Spa in die omgewing Rawsonville uit te span. Die oord, een van sewe ATKV-oorde regoor die land, is voorwaar die perfekte plek vir ’n gesinswegbreek – winter óf somer.

Die Slanghoekvillas by ATKV Goudini Spa. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Besoekers sal gou uitvind dat, hoe stil en salig dit soggens by die drieslaapkamer-Slanghoekvillas is, so bedrywig is dit reeds onder by die swembaddens.

Sommige vakansiegangers week van vroegoggend af in die genesende mineraalbaddens terwyl ander aërobiese oefeninge in die swembad doen. In die karavaanpark word daar vroegoggend koffie en ontbyt op die vuur gemaak.

Lafenis by ATKV Goudini Spa. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Ná ’n heerlike ontbyt by Koswerf, die restaurant by die oord, en ʼn stappie deur Goudini se mooi tuin, maak ek my gemaklik langs die swembad. Dit is hier waar ek vir ure lank ontspan en met musiek vermaak word voordat die lus vir ʼn glasie wyn my teen middagete beetpak.

Goudini is immers geleë op die Breedekloof-wynroete met 22 wynplase in die omgewing van onder meer Rawsonville, Slanghoek en Goudini. Badsberg is maar ʼn klipgooi van Goudini en Du Toitskloof sowat 8 km daarvandaan.

Ek besluit eindelik op ʼn wyn van Du Toitskloof, saam met ʼn heerlike middagete by die aangrensende Ou Meul-bakkery, voordat ek weer lafenis in die genesende mineraalbaddens van Goudini gaan soek.

‘n Glas chenin blanc by Du Toitskloof. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Die oord se swembaddens word almal met behulp van Moeder Aarde natuurlik verhit. Hoe verder van die warmwaterbron, hoe koeler die swembad.

En indien die water nie die ding doen nie, is daar ʼn spa by die oord waar die oorblywende spanning sorgvuldig uitgevryf kan word.

Die spa is egter maar een van verskeie aktiwiteite waar vakansiegangers hulle kan besig hou. Die oord bied ook ʼn warmwaterglybaan, ʼn speletjieskamer en tennis- en vlugbalbane.

Ja, soveel soos daar op Goudini gerus kan word, soveel is daar om jou te vermaak.

Die swembad by die Slanghoekvillas. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

ATKV Goudini Spa se tuin. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Goudini Spa is een van sewe ATKV-oorde regoor die land. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

ATKV Goudini Spa is in die hartjie van die Bolandse berge geleë. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Goudini is geleë op die Breedekloof-wynroete met 22 wynplase in die omgewing. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.