Akani wys Olimpiese medaljevuur brand helder

Suid-Afrika se Akani Simbine het spiere by die Diamantliga-byeenkoms in China gebult. (Foto: Hector Retamal/AFP)

Akani Simbine het die afgelope naweek met sy gouemedaljevertoning by die Diamantliga-byeenkoms in China gewys dat hy op die regte tyd vlam vat; veral met die Olimpiese Spele om die draai.

Die 30-jarige Suid-Afrikaner het die 100 m-louere voor die neuse van gerekende teenstanders soos Christian Coleman en Fred Kerley weggeraap.

Simbine het met ʼn skitterende eindpoging vorendag gekom om met ʼn tyd van 10.01 s te wen, gevolg deur Coleman (10.04 s) en Kerley (10.11 s).

“Hierdie vertoning gee vir my baie selfvertroue in aanloop tot die Olimpiese Spele. Dit gee ʼn mens ongetwyfeld ʼn momentuminspuiting en ek hoop dat ek hierop kan voortbou soos wat die seisoen vorder,” het die Suid-Afrikaanse 100 m-kampioen gesê.

Volgens Simbine is dit belangrik om nie deur ʼn naeloopster soos Coleman geïntimideer te word nie.

“Wanneer jy teen iemand soos Christian Coleman hardloop, kan jy maar weet dat hy baie sterk sal begin. Jy moet dan net op jou eie lopie fokus en nie van jou plan afwyk nie.”

Simbine het ʼn paar weke gelede vir die soveelste keer sy nasionale 100 m-titel ingeoes toe hy die Suid-Afrikaanse Kampioenskap in Pietermaritzburg ook met ʼn tyd van 10.01 s gewen het.

Volgens die Suid-Afrikaanse rekordhouer – wie sal sy spoglopie van 9.84 s in Hongarye vergeet – was hy tevrede met sy lopies in KwaZulu-Natal.

“Om die titel te wen is vir my iets persoonliks – dit is immers waarom ek hier is. ʼn Mens moet vir die land en die wêreld wys dat jy steeds ʼn krag is waarmee daar rekening gehou moet word.”

  • Die Olimpiese Spele word van 26 Julie tot 11 Augustus in Parys beslis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.