Awê, masekin! Afrikaans Amptelik 100 en ‘almal welkom hier’

René Arendse, nasionale hulpkoördineerder van Afrikaans 100 en Giep van Zyl, nasionale koördineerder van Afrikaans 100 (Foto: Maroela Media)

“Brasse, bra’s en broeders. Sisi en suster. Staan nader, staan nader. Maak ʼn plan of dala wat jy moet. Almal is genooi. Jy, jy én jy. Maak nie saak in watter kamer jou Afrikaans woon nie, solank jou hart vir die mooiste, wondersoetste taal klop.”

Met hierdie woorde word elkeen wat passievol oor Afrikaans is, die taal met trots praat en kies om dit vir toekomstige generasies te help bewaar, genooi om saam met die Afrikaans 100-veldtog dié taal se eeufeeswording te vier.

Afrikaans se 100ste jaar as amptelike landstaal word op 8 Mei 2025 herdenk, en in aanloop tot die viering van hierdie mylpaal is die Afrikaans Amptelik 100-veldtog van stapel gestuur.

“Afrikaans as taal is ʼn huis met baie kamers, en dit is juis daardie diversiteit en kragtigheid wat gevier gaan word. Hierdie veldtog maak die deur wyd oop sodat almal by die groot gesin van Afrikaans welkom voel,” sê Giep van Zyl, nasionale koördineerder van Afrikaans Amptelik 100. Van Zyl word deur René Arendse as nasionale adjunkkoördineerder van die veldtog bygestaan.

Hoewel Afrikaans veel ouer as honderd jaar is, het dit eers op 8 Mei 1925 naas Engels een van Suid-Afrika se twee amptelike tale geword.

“Hierdie datum sal as een van die mylpale in die geskiedenis van die relatiewe jong Afrikataal onthou en herdenk word,” sê Michael Jonas, direkteur van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument.

Michael Jonas, ondervoorsitter van die Afrikaans 100-oorsigkomitee en direkteur van die Afrikaanse Taalmuseum. (Foto: Maroela Media)

“Die vraag is egter vir wie en wat? Afrikaans se amptelike eeufeesvieringe bied dus die geleentheid en platform om die diverse oorsprong en wortels van hierdie Afrikataal te herontdek. Dit skep ook ʼn geleentheid om oor die verlede, hede en toekoms te herbesin.”

Volgens Jonas kan daar hierbenewens op ʼn holistiese vlak aan die ontwikkeling van Afrikaans as spreektaal erkenning gegee word. Nodige gesprekke oor kwelpunte en die pad vorentoe word ook in die vooruitsig gestel.

“Ons moet as taalgemeenskap byeenkom en ʼn dialoog voer oor heersende vraagstukke en kwessies en die talle ongemaklike vrae wat telkens opduik. Voorts bied die vieringe ʼn kans om oor die herposisionering van Afrikaans, as inheemse taal binne ʼn vernuwende, moderne, veeltalige Afrikakonteks, te gesels.”

Die kleurryke geskiedenis van Afrikaans strek wyd. Daar word reeds in 1671 aangeteken dat die Hollands wat in die Kaap gepraat word, nie meer soos die taal in die stamland klink nie. Die vroegste Afrikaans-Hollands wat uit die mond van die Khoi gekom het, is in die 1700’s opgeteken, en die eerste geskrifte in Afrikaans was godsdiensonderrig wat slawekinders in 1807 in Arabiese letters geskryf het.

Oor die jare het Afrikaans se voetspore wyd geloop. Van die akademie tot die letterkunde, van die hof tot in die kerk, van vermaak tot die wetenskap. As een van die jongste tale in die wêreld, het Afrikaans ook gewys dat dit een van die mees dinamiese tale is. Dié taal word daagliks uitgebou, nie net in woordeskat nie, maar ook in die aantal mense wat dit praat.

Afrikaans, wat aan die suidpunt van Afrika staanplek gekry en soos ʼn  reusekremetartboom wortels geskiet het, het van kombuistaal gegroei na die derde grootste taal wat vandag in Suid-Afrika gepraat word. Volgens die 2022-sensus het Afrikaans meer as 6,5 miljoen moedertaalsprekers.

Volgens Van Zyl is een van die Afrikaans Amptelik 100-veldtog se doelwitte om gesprekke tussen die verskillende taalgemeenskappe oop te maak.

“Dit sluit aan by visie om versoening, verering en ʼn viering van taaldiversiteit na te streef. Ons hoop om hiermee ʼn diverse gemeenskap van mense wat lief is vir Afrikaans in al die variëteite te verenig, die ganse verlede te erken en saam eienaarskap van die toekoms te neem.

“Dit gaan ʼn inklusiewe feesjaar wees wat alle Afrikaanssprekendes gelyke kans bied om deel van die fees te word. Vir Afrikaans Amptelik 100 is elke spreker se rol in die voortbestaan van Afrikaans belangrik, en daarom vier ons dit,” sê Giep van Zyl, nasionale koördineerder van die veldtog.

Van nou tot 8 Mei 2025 is daar verskeie projekte saam met medewerkers en vennote om hierdie groot mylpaal te vier. Dit sluit skolekompetisies, entrepreneursprojekte, nuwe storieboeke en kompetisies vir kosmaak en liedjieskryf in.

Die belangrikste van alles is dat almal se Afrikaans gevier gaan word, hetsy dit Standaardafrikaans, Kaapse Afrikaans, Gariep-Afrikaans of Afrikaans noord van die Oranjerivier is.

Individue, inisiatiewe of organisasies wat by die veldtog betrokke wil raak, kan die Afrikaans Amptelik 100-webwerf raadpleeg vir meer besonderhede. Inligting oor onder meer die projek se missie en visie, ondertekening van die manifes en besonderhede oor vennote wat reeds die manifes geteken en só hulle ondersteuning gegee het, is ook op die webwerf beskikbaar. Stuur enige navrae per e-pos aan [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Werner ·

Ek is so trots en bly dat Afrikaans 100 jaar oud word! So ‘n jong taal, tog so vasgewortel. Maar wanneer ek (oor die algemeen) van “inklusief” hoor, veral so oordrewe soos by die organiseerders, dan bly ek maar ver weg. Inklusief beteken (wereldwyd) maar net “geen wittes asb”. Ek sal maar op my eie feesvier.

Republikein in die Wes Kaap ·

Afrikaans klink al meer soos ‘n kreolse taal. Ons praat almal lekker, behalwe op amptelike vlak. Dienslewering in Afrikaans bestaan nie.

Jan Seerot ·

Uitstekend!
Laat ons Afrikaans praat, en nie skree: “Praat Afrikaans” nie.
Gaan soek gerus na die toepassing met die naam Beter Afrikaans in die Play Store. Laai die toepassing af op jou selfoon en werk daarmee.

Nettie ·

Inklusief. Divers. ALMAL welkom. Kreoolse woorde wat NIE deel is van ‘n Afrikaanse woordeboek nie.

Vier ons AFRIKAANS soos opgeneem in elke woordeboek? Of mense se verbuigings? En hoekom dan nie sommer ook al die lekker Engelse woorde wat almal so graag gebruik nie?

Almal welkom. Net nie suiwer Afrikaansprekendes nie, of hoe?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.