Baba met Covid weer tuis

Eon Maree (drie maande) het verlede week positief vir Covid-19 getoets. (Foto: Verskaf)

Die drie maande oue baba Eon Maree van Secunda kon die afgelope naweek weer by die huis saam met sy sussie deurbring nadat hy ʼn week lank in die Mediclinic Highveld op Trichardt in Mpumalanga vir Covid-19 behandel is.

“Dit is ʼn groot verligting. Daardie vier mure [van die hospitaal] het ʼn mens maar ingesluk,” sê Jeanine Maree nadat haar babaseuntjie verlede week van die suurstof afgehaal is en eindelik Donderdag op haar verjaarsdag ontslaan kon word.

“Dit gaan beter met hom, maar hy sukkel nog met die hoes,” het Maree vanoggend aan Maroela Media gesê.

Klein Eon het fisioterapie in die hospitaal ontvang wat volgens Maree baie met die hoes gehelp het, hoewel dié simptoom waarskynlik nog ʼn geruime tyd gaan voortduur.

Vir eers is die gesin net dankbaar om weer almal onder dieselfde dak te wees.

Eon is begin vandeesmaand in die hospitaal opgeneem nadat hy en Jeanine albei positief vir Covid-19 getoets het. Eon se pa, Hein, het kort voor hulle begin siek voel en ook ʼn positiewe toetsuitslag ontvang.

Die Maree-gesin van Secunda. (Foto: Verskaf)

Volgens Maree gaan dit sedertdien ook beter met haar en Hein (32), wie se siekverlof met nog tien dae verleng is sodat hy verder tuis kan aansterk.

Intussen los Eon se tweejarige sussie, Chanine, hom nie vir ʼn oomblik alleen sedert haar boetie se tuiskoms nie.

Die gesin het in Desember verlede jaar ook ʼn benoude tyd deurgemaak nadat Chanine positief vir die koronavirus getoets het. Haar koors was hoog en sy is in dieselfde hospitaal opgeneem waar haar boetie nou behandel word.

Chanine het aanvanklik gesukkel om asem te haal, maar is ná vier dae in die hospitaal ontslaan. Die gesin moes nog tien dae lank in isolasie deurbring en Jeanine het destyds al ʼn beroep op mense gedoen om die koronavirus ernstig op te neem.

Maree het kort ná Eon ontslaan is van nóg ʼn baba gehoor wat met Covid-19 in ʼn hospitaal opgeneem is.

Dít nadat daar drie babas saam met Eon in die hospitaal in Trichardt was voordat hy eindelik ontslaan is.

“Dit is scary. Dit boesem vrees by ʼn mens in oor waarheen jy kan gaan en wat jy mag doen. Moet mens dan jou kind vir altyd net in die huis hou?”

Maree is ten gunste van die entstof teen Covid-19. Sy en Hein het albei sowat ʼn week voordat hulle siek geword het die entstof ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Swerwer ·

Dankie Heer dat U Eon veilig terug aan sy ouers gegee het.

Skappie ·

Is bly dat Eon nou weer veiling by die huis is. Sterkte aan julle as ‘n gesin, hoop almal word vinnig gesond.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.