Baba se ouers aangekla van mishandeling

Die polisiestasie in Pretoria waar AfriForum die dokters en maatskaplike werker gaan bydra (Foto: Verskaf)

AfriForum se private vervolgingseenheid het Vrydag twee dokters en ’n maatskaplike werker by ’n polisiestasie in Pretoria bygestaan om ʼn klag van kindermishandeling te lê teen die ouers van ’n vyf maande oue babadogtertjie wat glo mishandel word. Dit volg nadat die aanvanklike polisieondersoek niks opgelewer het nie.

Die dokters het reeds in April vanjaar ʼn klag van kindermishandeling teen die ouers by die polisie aanhangig gemaak, toe die baba slegs vyf weke oud was. Die polisie het die saak aanvanklik ondersoek, maar het die klaers ingelig dat die saak gesluit is weens ’n gebrek aan bewyse.

Luidens ʼn verklaring van AfriForum is die babadogtertjie in April in ʼn hospitaal in Pretoria opgeneem met beserings wat met kindermishandeling ooreenstem. Haar dokters en ’n private maatskaplike werker het toe ’n saak by die polisie en departement van maatskaplike ontwikkeling aanhangig gemaak. Die baba se ribbes was na bewering op 15 plekke gebreek.

Die hospitaal het die ouers se weergawe van wat gebeur het gehad. Die dokters het aangevoer die ouers se verduideliking strook nie met die aard van die beserings nie. “Die dokters is van mening dat die beserings op gereelde kindermishandeling dui en dat dit nie toegeskryf kan word aan ongelukke nie. Die polisieondersoek het toe niks opgelewer nie,” lui die verklaring.

Volgens die verklaring is die baba op 1 Julie weer in die hospitaal opgeneem met longontsteking, skok en dehidrasie. Sy was ook onder die gewigmylpaal vir haar ouderdom en was rasend honger toe sy opgeneem is. Verdere toetse het gewys dat haar sleutelbeen twee tot drie weke vóór haar opname ’n fraktuur opgedoen het. “Volgens die dokters breek ’n baba se sleutelbeen nie maklik in ʼn  ongeluk nie. Verder het ’n MRI-skandering beserings getoon wat heel moontlik veroorsaak is deur iemand wat die baba erg geskud het. Daarbenewens was albei haar femurs gebreek en die tekens van verskeie gebreekte ribbes was nog sigbaar.”

Die dokters wat haar ondersoek het, het almal saamgestem dat sy gereeld erg mishandel word. Die baba is tans in die hospitaal.

Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se private vervolgingseenheid, sê dit is skokkend dat die polisie en ander owerhede hulle plig tot só ’n mate versuim dat ’n kind aan erge mishandeling onderwerp word. “Die owerhede se weiering om hul mandaat uit te voer en die babadogtertjie te beskerm, staan in skril kontras met politici se beloftes dat geweld teen kinders en vrouens tot die ergste graad gestraf moet word,” meen Leask.

Leask sê AfriForum sal alles in sy vermoë doen om te verseker dat hierdie kind beskerm word teen verdere mishandeling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Snowball ·

Hoe verskriklik moet die pyn wees wat dié mensie deurgaan? Daai gedrogte moet toegesluit word en hulle moet haar nooit weer sien nie! Gee haar vir iemand wat haar kan liefhê.

RekmyBek ·

Genade tog!!!
My hart breek in duisend stukke. Ek sal mie eers ‘n lappop skud nie!!

Pampoen ·

Die onbevoegde polisie beamptes moet ontslaan word. Die dokters het hulle nekke uitgesteek. Dankie dokters!

Lorette ·

As ek net dink hoe graag my dogter en haar man ook ‘n ou kindjie wil hê, maar na jare getroud is daar niks. Derduisende spandeer op ondersoeke ens en hier het mense die gawe van ‘n dogtertjie ontvang en wat doen hulle!!!!! Ek hoop sy word weggeneem en in pleegsorg geplaas van ‘n liefdevolle gesin!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.