Babaseuntjie sterf ook ná N4-ongeluk

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

Die babaseuntjie wat Maandagmiddag saam met sy gesin in ʼn ongeluk op die N4 in Mpumalanga betrokke was, is in die hospitaal dood.

Maroela Media het vroeër berig die ongeluk tussen twee voertuie het ook die lewens van vyf ander mense geëis.

Terwyl paramedici gevorderde lewensondersteunende ingrypings op die babaseun moes toepas, het die res van die gesin slegs geringe beserings opgedoen.

Moeti Mmusi, woordvoerder van die departement van gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, sê die 18 maande oue baba het aan sy beserings in die Rob Ferreira-hospitaal beswyk waar hy ná die ongeluk opgeneem is.

Volgens Mmusi het dit sedertdien geblyk dat die ongeluk gebeur het toe die bestuurder van een van die motors beheer oor die voertuig verloor en teen die kant van ʼn motor wat in die teenoorgestelde rigting gery het, vasgery het.

Vusi Shongwe, LUR vir gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, het opnuut ʼn beroep op motoriste gedoen om versigtig te bestuur.

Hy het motoriste ook gemaan om veral versigtig te wees terwyl reënweer op talle plekke voortduur.

“Motoriste moet onder meer hul hoofligte tydens hierdie weer aanhou en ook spoed verminder wanneer sigbaarheid op die pad swak is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.