Bakleiery by oord ontaard in ‘rasseherrie’

‘n Skermgreep uit die video op sosiale media.

’n Groep mans sal waarskynlik in die nuwe jaar in die hof moet verskyn ná ’n bakleiery met twee tienerseuns by ’n vakansieoord op Kersdag.

’n Video van die voorval by Maselspoort naby Bloemfontein is wyd op sosiale media versprei en word deur die regering as ’n rassevoorval bestempel. In die video kan gesien word hoe minstens drie wit volwasse mans en twee swart seuns in ʼn onderonsie betrokke is.

Woedende lede van die EFF het sedertdien na die oord opgeruk om hul misnoeë met die voorval te kenne te gee.

Die presiese aanloop tot die bakleiery is egter in dié stadium nie duidelik nie.

Daar kan in die video op sosiale media onder meer gesien word hoe ’n wit man aan ’n swart seun in ’n swart swembroek in ’n swembad klap. Die seun probeer dan die man tevergeefs die water intrek voordat hy uitklim. Hy word dadelik weer deur die man die water ingestamp.

’n Tweede wit man gryp dan die ander swart seun in ’n wit swembroek om die nek en wurg hom. Die seun in die swart swembroek klim dan uit die water en takel die man van agter. Die man val op die ou end in die water.

’n Derde wit man met ’n sigaret in die hand kom dan van die kant af aangestap en gryp die seun in die wit swembroek aan sy kop.

Sommige vakansiegangers sê op sosiale media die seuns mag nie daar geswem het nie aangesien die gebruik van die betrokke swembad slegs vir kampeerders, en nie dagbesoekers nie, beskikbaar is. Daar word ook beweer dat die seuns ’n driejarige dogtertjie die water ingestamp het en dat die dogtertjie se pa reageer het. “Na dit het alle hel los gebars,” skryf ’n sosialemediagebruiker.

’n Ander vakansieganger sê egter dit is nie waar dat die seuns dagbesoekers was nie en dat die seuns die dogtertjie per ongeluk ingestamp het terwyl hulle gespeel het.

‘n Skermgreep uit die video op sosiale media.

Die oord se bestuur het die polisie ontbied. Nick Mitchell, oordbestuurder by Maselspoort, het Maandag aan ’n verslaggewer van die SAUK gesê die oord duld géén rasseskeiding, rassisme óf bakleiery nie.

Brig. Motantsi Makhele, Vrystaatse polisiewoordvoerder, sê die twee groepe was met die polisiebeamptes se aankoms by die oord reeds uiteen. Een van die tienerseuns se pa het egter die beamptes genader en beweer dat sy twee seuns deur die mans aangerand is oor die gebruik van die swembad.

’n Saak van aanranding is gevolglik aanhangig gemaak. Makhele sê die dossier sal vir beslissing na die hof verwys word.

Die mans in die video is intussen gewaarsku om in die hof te verskyn op ’n datum wat deur die Bloemfonteinse landdroshof bepaal sal word.

Pres. Cyril Ramaphosa en verskeie regeringsamptenare het intussen die voorval veroordeel.

“Rassisme het geen plek in Suid-Afrika nie en rassiste moet die gevolge ingevolge die wet dra,” sê Ramaphosa.

“Ons Grondwet beteken presies wat dit sê wanneer dit verklaar dat Suid-Afrika – en dit beteken die hele Suid-Afrika – aan almal behoort wat daarin woon.

“As swart en wit Suid-Afrikaners behoort ons verenig te wees om alle voorvalle van rassisme en pogings om sulke misdadige optrede aan te hits of te verdedig, te veroordeel. Rassisme is nie ’n probleem wat net deur swart Suid-Afrikaners beveg moet word nie.”

Die Vrystaatse premier, Sisi Ntombela, en Lindiwe Sisulu, minister van toerisme, sê hulle het met “afsku” van die voorval kennis geneem.

Ntombela het Makalo Mohale, Vrystaatse LUR vir die departement vir ekonomiese, kleinsakeontwikkeling, toerisme en omgewingsake, opdrag gegee om die saak te hanteer en Mohale sal binnekort met die oord vergader om meer oor die voorval te wete te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.