Batebeslagleggingseenheid gryp ‘korrupte’ attaché se bates

Nog ‘n huis, die een in Northcliff, waarop die NVG beslag geê het. (Foto: NVG)

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se batebeslagleggingseenheid het Dinsdag toegeslaan en op die bates beslag gelê van ʼn weermag-attaché van die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) wat daarvan beskuldig word dat hy miljoene rande verduister het.

Volgens die eenheid het die hooggeregshof in Pretoria op 11 Maart ʼn beslagleggingsbevel ter waarde van R43 miljoen toegestaan. Ingevolge dié bevel is daar ook beslag gelê op twee bankrekeninge en nog vier eiendomme van brig. Ngoy Timothee Makwamba.

Volgens Lumka Mahanjana, NVG-woordvoerder, word die brigadier deur klagte van onder meer bedrog en diefstal in die gesig gestaar.

“Die bevel is deel van die eenheid se strategie om die opbrengs van misdaad namens die staat in te vorder en korrupsie uit te roei,” sê Mahanjana.

Die aanklagte teen Makwamba spruit uit ʼn terugbetalingeis wat Makwamba glo onregmatig in die bankrekening van die firma Johan van Heerden Prokureurs laat inbetaal het.

Makwamba was ʼn weermag-attaché in Suid-Afrika wat onder meer gemagtig was om namens die DRK wapens van Denel aan te koop. Sy kontrak met dié land is egter in Desember 2022 beëindig, asook sy mandaat om die DRK te verteenwoordig.

Ten spyte hiervan het Makwamba hom glo steeds onregmatig voorgedoen as die DRK se gedelegeerde ondertekenaar van die weermag se rekening.

Volgens Mahanjana het hy op 13 April die prokureursfirma se rekeningbesonderhede aan Denel verskaf, tesame met ʼn terugbetalingseis van R49,6 miljoen. Die terugbetaling moes gedoen word nadat Denel nie die bestelling kon nakom nie.

Van die geld is glo in die bankrekeninge van Makwamba se kinders inbetaal, asook in rekeninge van verskeie mense in die DRK. Die geld is ook gebruik om verskeie eiendomme mee te koop.

Die Finansiële Intelligensiesentrum (FIC) is by die ondersoek betrek en het die geld nagespoor in twee Nedbank-rekeninge waarin daar onderskeidelik R35 miljoen en R224 765,38 bevries is.

Daar is ook beslag gelê op ʼn eiendom in die Centurion-gholflandgoed wat in Makwamba se naam geregistreer is, ʼn tweede eiendom bekend as The Falcons wat in Eastwood in die name van Makwamba se kinders geregistreer is, nog eiendom in Northcliff en ʼn eiendom in Arcadia in Pretoria.

Volgens Mahanjana is al die eiendomme en rekeninge onder tydelike kuratorskap geplaas. Die eiendomme sal op veilings verkoop word sodra die hof ʼn finale bevel gemaak het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Martie ·

Lekker man, van DRK maar jy kan besigheid doen hier soos jy lus het. As ek ‘n eiendom wil koop word ek nagevors tot by my voorgeslagte.

domheks ·

En niemand het vrae gevra toe hy so lekker spandeer het nie? Waar was Jan Taks toe gewees?

Surfer ·

Die manne weet net hoe! Wonder waar hulle geleer het? Daar is nie n plek in ons land waar hulle nie “affirmative shopping” doen nie en hulle “shop” groot.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.