Beaufort-Wes ‘swakste munisipaliteit’ in Wes-Kaap

Lede van die PA in Beaufort-Wes (Oktober 2021) (Foto: Elrico Jonas/Facebook)

Die DA in Beaufort-Wes is woedend oor die ellendige toestand van regering onder die Patriotiese Alliansie (PA) in die Beaufort-Wes-munisipaliteit.

Die onlangs vrygestelde Ratings Afrika MFSI-verslag het dié munisipaliteit ʼn treurige telling van 21 uit 100 gegee, wat bevestig dat Beaufort-Wes die swakste presterende munisipaliteit in die Wes-Kaap geword het. “Dit beklemtoon die PA se verbintenis tot swak dienslewering en finansiële wanbestuur,” sê Daylin Mitchell, die DA se kieshoof in Beaufort-Wes.

Beaufort-Wes het sedert die 2021- munisipale verkiesings drie burgemeesters gehad, en tog bly die munisipaliteit vasgevang in ʼn siklus van finansiële bankrotskap en ontoereikende dienslewering.

“Die PA se alliansie met die ANC beklemtoon verder hul minagting vir die welstand van die gemeenskap wat hulle veronderstel is om te dien.

“In skrille kontras bevestig die Ratings Afrika-verslag die uitsonderlike dienslewering wat behaal is onder die munisipaliteite wat deur die Demokratiese Alliansie (DA) in die Wes-Kaap gelei word. Vyf van die finansieel stabielste munisipaliteite in Suid-Afrika is in die Wes-Kaap, met Kaapstad as voorloper. Munisipaliteite soos George, Mosselbaai, Saldanhabaai, Swartland en Kaapstad het hul vermoë bewys om inkomste in balans te bring, hul skuld te betaal en te belê in noodsaaklike infrastruktuur terwyl hulle ‘n sterk finansiële rekord handhaaf,” sê Mitchell.

Volgens hom sal die DA nie ledig staan en toekyk terwyl die PA en hul alliansie met die ANC voortgaan om die behoeftes van Beaufort-Wes te ignoreer nie. “Ons nooi die inwoners van Beaufort-Wes uit om saam met ons rekenskap van die PA te eis en ʼn verandering in leierskap te ondersteun wat die welstand en welvaart van ons munisipaliteit as prioriteit stel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Katinka ·

Ek het niks minder verwag nie, en so gaan die land agteruit, stuk vir stuk

Kokerboom ·

Dis gevolg van boewe wat land regeer! Ons land het ‘n onhoudbare situasie bereik!

Di ·

Meeste van die Munisipaliteite is net ‘n trog om uit te vreet vir sekeres.

skurweberg ·

As gemeenskappe nie gaan opstaan vir reg en geretigheid teen disfunkionele munisipaliteite nie, sal niks verander nie. Los die plakate by die huis en gaan praat self met die werknemers wat deur die belastingbetalers betaal word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.