Begrafnisgangers ná kerktragedie in busongeluk beseer

Die toneel by die Pentecostal Holiness Church in Dlangubo waar 13 mense dood is nadat ‘n muur ineengestort het. (Foto: Leon Lestrade/African News Agency)

Tientalle mense wat die begrafnis van slagoffers van die kerktragedie vroeër vandeesmaand in Empangeni bygewoon het, is beseer toe hulle bus op pad terug van die diens omgeslaan het.

Altesaam 52 mense is beseer in die ongeluk gister naby KwaCeza in KwaZulu-Natal.

Dr. Sibongiseni Dhlomo, die LUR vir gesondheid in die provinsie, het die paramedici, dokters en verpleërs bedank wat ingespring het om die beseerdes te help. “Ons was geweldig geskok om van die busongeluk te hoor, veral so kort ná die begrafnis van diegene wat verlede week in die Pentecostal Holiness-kerk gesterf het. Ons dank die Here dat hy dié lewens gespaar het,” het Dhlomo in ʼn verklaring gesê.

Altesaam tien mense is ernstig in die busongeluk beseer en nog 42 het geringe beserings opgedoen.

Dhlomo het ook werkers van die provinsie se forensiese patologiedienste bedank vir hul bydrae. Dertien mense is in dié voorval in die Pentecostal Holiness-kerk dood toe ʼn muur van die kerkgebou op hulle ineengestort het.

Die toneel by die Pentecostal Holiness Church in Dlangubo waar 13 mense dood is nadat ‘n muur ineengestort het. (Foto: Leon Lestrade/African News Agency)

Dieselfde span forensiese kenners was verantwoordelik vir die nadoodse ondersoeke van die 67 mense wat in die afgelope ruk se vloede in die provinsie dood is. Hulle het  ook nadoodse ondersoeke gedoen op vyf mense wat in die Ndlagubo-omgewing in ʼn motorongeluk dood is op dieselfde dag as die Empangeni-tragedie.

“Die voorvalle die afgelope ruk was ʼn moeilike toets vir ons vermoëns en gereedheid om op onbeplande noodgevalle te reageer. Ons forensiese patologiedienste, paramedici verbonde aan die nooddienste, verpleërs en kliniese assistente het regtig die vlag hoog laat wapper.

“So hartseer as wat dit is om die verlies aan lewe en eiendom op só ʼn groot skaal te sien, was die manier wat mense daarop gereageer het, gerusstellend – vir ons én vir diegene wat in rou gedompel is.

“Ons wil hulle bedank en aanmoedig om hulle harde werk voort te sit,” het Dhlomo gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gert van Wierdapark ·

Wat is/was die uitslae oor hoekom die muur op die mense geval het. Dis mos nie “rocket science” om dit te bepaal nie, of neig dit na die Nigieriese biskop se Lagos dubbelverdieping ineenstorting toe, en moet die uitslag eers na 8 Mei bekend gemaak word?

jakes ·

Die muur wat tydens n diens omgeval het en mense se lewe gekos het is waarskynlik so goedkoop moontlik gebou en dus nie volgens die vasgestelde veiligheidsvereistes opgerig nie. Die bus is ook moontlik nie padwaardig gewees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.