Begrotingsreaksie: Landbou verwelkom ‘verstandige keuses’

sonkol-koring-landbou

(Foto: Munruthel/Pixabay)

Die minister van finansies, Tito Mboweni, het “verstandige keuses” gemaak om die regering se begroting te bestuur en die ekonomie beter te steun.

“Die begroting plaas hernieude fokus daarop om ekonomiese groei ʼn hupstoot te gee,” het Agri SA gesê.

Die organisasie het die beperkte belastingverhogings verwelkom en sê dit kan help om groei te stimuleer en belastingbetalers se vertroue te versterk. “Planne om die staatsdiens se salarisrekening in te perk is ook in ooreenstemming met fiskale konsolidasie.”

Agri SA sê hy het wel gehoop om meer steun vir die landboubedryf te sien. “Besteding op landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming bly minimaal. Die landboubedryf het steun nodig om die moontlikhede wat in die nasionale ontwikkelingsplan geïdentifiseer is, in werking te stel.

“Agri SA hou vol die landboubedryf is die sleutel om ekonomiese groei in Suid-Afrika te ontsluit.

“Ons hoop dat minister Mboweni binne die volgende jaar die moontlikheid in die bedryf sal besef en die landbougemeenskap die regeringsteun sal gee wat dit benodig en verdien.”

(Argieffoto: Mike Krüger)

Mboweni het aangekondig dat R495,1 miljoen bewillig word om voldoening aan bio-veiligheidsmaatreëls te verbeter en uitvoere te steun. ʼn Bykomende R500 miljoen is beskikbaar gestel om grondeise af te handel, en ʼn verdere (voorlopige) R500 miljoen vir rampbestuur ná vloede en vir die voortslepende droogte.

TLU SA het gesê Mboweni het met min beweegruimte tog ʼn mate van optimisme geskep en meen dat die toename in staatsbesoldiging, korrupsie en die vermorsings van belastingbetalers se geld in bedwang gebring moet word.

“Daar moet deurentyd in konteks na die aankondigings gekyk word. Suid-Afrika is steeds vasgevang in ʼn onsekere beleidsomgewing wat nie ekonomiese groei kan waarborg nie. Kwessies soos onteiening sonder vergoeding en die negering van kundigheid ten gunste van die regering se transformasiebeleid, is sprekende voorbeelde,” het Louis Meintjes, president van TLU SA, gesê.

Hy sê die fokus op infrastruktuurontwikkeling met ʼn toewysing van R10 miljard oor drie jaar is verblydend.

“Dit is ook goed om te sien dat die regering dit ʼn prioriteit maak om stabiele elektrisiteitstoevoer te verseker deur die sektor te herstruktureer. Daar moet streng voorwaardes aan die verdere finansiële ondersteuning gekoppel word.”

Meintjes sê die verhoging van 25 c/ℓ in die brandstofheffing is altyd vir die bedryf ʼn slag en dit gaan ʼn groot uitwerking op die ekonomie hê.

“TLU SA is wel tevrede dat R495 miljoen bewillig is om beter te voldoen aan bio-veiligheidsmaatreëls en uitvoere, veral gesien in die lig van die katastrofiese gevolge van bek-en-klouseer-uitbrekings,” het Meintjes gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.