Begrotingsrede: Goeie nuus vir onderwysers, polisie

Goeie nuus vir misdaadvoos Suid-Afrikaners is dat ʼn bykomende R8,7 miljard by die polisie se begroting gevoeg word. (Argieffoto: SA Polisie)

Suid-Afrika se besteding om sy skuld te diens beloop jaarliks sowat R330 miljard oor die mediumtermynbegrotingsraamwerk – meer as die land se besteding aan onderskeidelik gesondheid, polisiëring en basiese onderwys.

Die minister van finansies, Enoch Godongwana, het Woensdag in sy begrotingsrede dus stappe aangekondig om die begrotingstekort te verminder en skuldvlakke te stabiliseer.

Meer geld is wel toegeken aan onderwys, gesondheid en die polisie.

Onderwys en gesondheid

Die regering het in 2017 ʼn beleid van gratis hoër onderwys aangekondig en Godongwana het ʼn bykomende toewysing van R32,6 miljard in finansiële steun aan huidige beurshouers en eerstejaarstudente onder die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) gedoen.

Verdere tekorte sal egter van die basislyn van die departement van hoër onderwys gefinansier moet word.

“Op die kruin van die Covid-19-pandemie moes ons onderwysers geweldige opofferings maak om te verseker ons kinders ontvang onderrig. Eweneens was ons gesondheidswerkers onder diegene wat die laaste en enigste linie van verdediging teen die pandemie was.

“In hierdie begroting voeg ons R24,6 miljard by provinsiale onderwysdepartemente om die tekorte in die vergoeding van onderwysers te pak.

“ʼn Bykomende R15,6 miljard word toegewys aan provinsiale gesondheidsdepartemente ter ondersteuning van hul voortgesette reaksie op Covid-19 en om tekortkominge in noodsaaklike goedere en dienste te oorbrug,” het Godongwana aangekondig.

Altesame R3,3 miljard word ook toegewys om mediese interns en gemeenskapsdiensdokters te absorbeer.

Polisie

Goeie nuus vir misdaadvoos Suid-Afrikaners is dat ʼn bykomende R8,7 miljard by die polisie se begroting gevoeg word. Die departement kry ook R1 miljard om personeelhervorming in werking te stel.

“Nog R800 miljoen kan moontlik in die volgende jaar beskikbaar wees, maar dit sal afhang van voldoende vordering,” sê Godongwana.

Daar word ook meer geld bewillig om hulpbronne in die strafregstelsel en by die land se howe te verbeter. Die begroting van die departement van justisie en konstitusionele ontwikkeling word dus met R1,1 miljard verhoog, terwyl ʼn bykomende R39,9 miljoen aan die kantoor van die hoofregter toegewys word.

  • Grafika: Nasionale tesourie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Di ·

Die regering moet minder aan TOELAES betaal wat mense aanspoor om net meer kinders te kry. Die R350 toelaes wat eers ‘n vergunning was tydens COVID, raak nou ‘n permanente ding wat die belastingbetalers biljoene kos elke jaar. Intussen moet mens hoor daar is nie geld om dit en dat te doen of in stand te hou nie, maar biljoene kan aan toelaes spandeer word.

Marius ·

Oi !!! Al daai skuld… En dan nog miljarde vir gratis studies en dan is daar nog al die toelaes. Nou weet ons hoekom die regering bankrot is.

Pietertjie ·

So die polisie behoort goed gefinansier te wees indien opstande teen die inperkings-regulasies op eie bodem uitbreek.

Lillian ·

Die enigste manier om die polisie te hervorm is om ontslae te raak van die korruptes. Dis sal seker beteken dat meer as 90% van die polisie afgedank of tronk toe sal gaan. Die polisie het ‘n absolute sirkus geword.

En verder om meer geld toe te ken gaan nie die swak vertoning verbeter nie, dit gaan net korrupsie verhoog.

Keelvol ·

Probleem is die regering kan nie tussen kwantiteit en kwaliteit onderskei nie.

Chris ·

Die diktatoriale magte het meer befondsing nodig vir polisiering van wetsgehoorsame mense – almal weet hul is nie meer werklik daar om werklike misdaad te ondersoek nie.

christo ·

Ek weet nie waar al dié miljoene Rande gaan nie, want die hulpbronne kom nie by skole uit nie. Ons onderwysers het nie Ramaphosa se Cyril’s Angels (sgde. onderwys assistente en algemene assistent algemene werkers) nodig nie.
Hulle is onaantasbaar en mag nie die onderwysers help om skoolbanke na skool te ontsmet nie, of help om die klaskamer uit te vee nie.
Verder is hulle só arm dat hulle heeltyd op hulle slimfone tyd spandeer en natuurlik tog so beterweterig en arrogant .
Ramaphosa ons het die volgende nodig:
1. Skoolsielkundiges
2. Vakante sekretaresse poste.
3. Vakante algemene assistente.
4. Atlasse
5. Leesboeke
Ons het nie iPads nodig om wie weet watter politieke nar te laat ‘shine’ nie.
Ramaphosa hou op om ‘n ‘people pleaser ‘ te wees en deurdink jou besluite. Jy het die Minister van Finansies ‘n geleentheid gegee om jou ANC tender- entrepeneurs geleentheid gegee om te maak wat hulle mee goed is, geld te verduister.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.