Bejaarde egpaar glo deur familielid aangehou, beseer

Die egpaar se woonstel in Tongaat waar hulle Woensdagaand aangeval is. (Foto: Rusa)

’n Bejaarde egpaar van KwaZulu-Natal is Dinsdagaand deur ’n man wat vermoedelik familie is van hulle, in hul huis in Tongaat aangehou en herhaaldelik met ’n kombuismes gesteek.

Die egpaar, onderskeidelik 78 en 69 jaar oud, is ná die voorval na ’n hospitaal gehaas en die vermeende aanvaller (35) is in hegtenis geneem.

Reaction Unit South Africa (Rusa) sê in ’n verklaring die aanvaller het homself en die egpaar in ’n slaapkamer in hul huis in Buffelsdale toegesluit. Die aanvaller het ’n kombuismes by hom gehad en die egpaar herhaaldelik daarmee gesteek.

Volgens Rusa het lede van die polisie die slaapkamer bestorm en die aanvaller is in hegtenis geneem.

Die egpaar is glo in ‘n slaapkamer aangehou en aangeval. (Foto: Rusa)

Kapt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie, het Donderdag aan Maroela Media gesê die egpaar is ná die voorval na ’n hospitaal gehaas vir mediese behandeling.

Gwala het bevestig dat ’n verdagte in hegtenis geneem is en na verwagting Vrydag in die landdroshof in Verulam sal verskyn op aanklag van poging tot moord.

Die motief vir die aanval is in dié stadium onduidelik. Volgens Rusa is die aanvaller moontlik bipolêr, maar dit kan nog nie bevestig word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Margaret ·

Genade, dit is aaklig. Ek het nog nooit van n bipolêr mens gehoor wat so iets doen nie.

Dana ·

Baie meer waarskynlik die werk van ñ man met ñ persoonlikheidssteuring.
Die term ‘bipolêr’ word te maklik ontoepaslik gebruik.

Vicky ·

Stem 100% Dana…deesdae se abusers is glads te gemaklik om “bipolèr” voor te gee as hulle gecorner word.

Elinette ·

Duidelik weet jy nie wat bipolêre gemoedsversteuring is nie. Vra dit van iemand wat weet – ek is bipolêr. BGV verwys letterlik na twee teenoorgestelde gemoedspole: iemand kan òf besonders vrolik wees óf diep depressief (angstig of gewelddadig) wees. BGV is ‘n chemiese wanbalans in die brein wat slegs psigiatries behandel kan word – met terapie en medikasie.

Belinda ·

bipolar is mos deesdae die verskoning vir alles wat verkeerd gaan. hoekom in die ou tyd was daar nooit sulke gevalle van bipolar mense wat dinge gedoen het nie. dis geen verskoning want jy moet tog besef wat jy doen en weet wat is verkeerd en wats reg, veral as mens dit meer as eenkeer doen (iemand met n mes steek of watookal)

Swerwer ·

Die woord “Wreed” kan dit nie eens beskryf nie. Nee, regtig wens hierdie Regering wil nou ‘n goeie belsuit neem en hierdie land van ons aan ‘n Regering oorhandig wat dissipline en geregtigheid kan toepas. Slegs dan sal daar orde plaasvind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.