Bek-en-klouseer op Oos-Kaapse plaas aangemeld

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Verskeie bevestigde gevalle van bek-en-klouseer is op ’n plaas naby Humansdorp in die Oos-Kaap aangemeld – die eerste keer in dié provinsie.

Cebisa Mnqeta, hoofstaatsveearts in die Oos-Kaap, sê die nasionale veeartsenykundige staatslaboratorium het reeds ’n week gelede bevestig dat dié veesiekte onder ’n melkkudde buite Humansdorp teenwoordig is.

Mnqeta sê die boer het aanvanklik sowat 70 diere aangemeld wat kliniese tekens van bek-en-klouseer getoon het. Die plaas teken sedertdien gemiddeld tien nuwe gevalle per dag aan.

Die betrokke plaas én aangrensende buurplase is sedertdien onder kwarantyn geplaas terwyl daar gewag word op die resultate van monsters wat op dié plase geneem en na die staatslaboratorium gestuur is.

Mnqeta sê die eerste bondel monsters, wat vanaf drie plase in die omgewing, asook ’n aangrensende gemeenskapsgebied geneem is, is Vrydag na die staatslaboratorium versend om getoets te word. Al hierdie monsters het negatief getoets vir bek-en-klouseer.

Die Oos-Kaapse departement van landelike ontwikkeling en landbouhervorming doen intussen ’n beroep op die boere en vee-eienaars om waaksaam en op die uitkyk te wees vir enige tekens en simptome van bek-en-klouseer in hul kuddes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Di ·

Hoe breek hierdie siektes net uit onder vee?? Is die vee nie ingeent nie of wat veroorsaak dit?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.