Bekende fotograaf sterf

Johan Wilke en Sandra Prinsloo. (Foto: Instagram)

Die bekende fotograaf Johan Wilke is Maandag in Jacobsbaai aan die Weskus in die ouderdom van 59 dood.

Hein Vercuiel, Wilke se swaer, sê Wilke was nie siek nie en het vermoedelik ʼn hartaanval gehad. Wilke is plaaslik en internasionaal bekend as mode-, skoonheid- en leefstylfotograaf.

Talle plaaslike bekendes soos Lee-Ann Liebenberg, Nina Swart, Christina Storm, Minki van der Westhuizen, Sandra Prinsloo en Cindy Nell het al voor sy kameralens gepryk.

Nell het Woensdag in ʼn hartroerende boodskap op Instagram gesê sy het nog verlede week saam met Wilke gewerk.

Johan Wilke en sy dogter, Betsy. (Foto: Facebook)

“ʼn Legende in die bedryf en die gaafste ou. Vandag ʼn week later is hy oorlede. Hoe wens ek tog ek het hom ʼn druk-totsiens gegee in plaas van ʼn Covid-wuif. Ek wens ek kon vir hom sê hoe ongelooflik hy is en hoe wonderlik dit was om al hierdie jare saam met hom te werk. Ek is so hartseer oor die verlies van ʼn wonderlike man,” het Nell gesê.

Volgens Isabella Niehaus, voormalige moderedakteur van Sarie, was Wilke ʼn kosbare vriend en talentvolle fotograaf.

“Ons het baie jare saam ʼn pad gestap. Die mooiste modestories gedoen … ure en ure gesels. Gelag. En jy was altyd daar om ook my stukkende skerwe weer vas te plak. Ek brand vir jou ʼn kers en sal die mooi wat jy geskep het, en ons vriendskap, altyd koester,” het Niehaus gesê.

Wilke laat ʼn dogter, Betsy, agter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Josh ·

Dis wat covid doen… vorm bloedklonte wat hartaanvalle en beroertes veroorsaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.