Bekende Oos-Kaapse politikus oorlede

Eddie Trent (Foto: Central SRA)

‘n Deurwinterde legende in die Oos-Kaapse opposisiepolitiek, Eddie Trent, is in die ouderdom van 80 jaar in Port Elizabeth oorlede.

Hy en sy vrou, Elizabeth Trent, het hul lewens gewy aan die stryd om progressiewe liberalisme in die Oos-Kaap, en aan die bestryding van regeringsvergrype – onder die bewind van sowel die Nasionale Party (NP) as die African National Congress (ANC).

Eddie Trent is as lid van die destydse Progressiewe Federale Party (PFP) in 1985 tot lid van die Provinsiale Raad (LPR) van die destydse Kaapprovinsie verkies vir die kiesafdeling Port Elizabeth-Sentraal, waar hy die legendariese Molly Blackburn ná haar dood opgevolg het.

In die 1989-verkiesing is hy onder die vaandel van die destydse Demokratiese Party (DP) tot parlementslid vir Port Elizabeth-Sentraal verkies as opvolger van die party se hoofsweep, John Malcomess, wat uitgetree het.

Trent het parlementslid gebly tot in 1994. Met die eerste demokratiese verkiesing in 1994 het die DP oral baie swak gevaar, en die Oos-Kaap was geen uitsondering nie.

Hy het as provinsiale DP-leier die party se enigste setel in die Oos-Kaapse provinsiale wetgewer verteenwoordig, en sy werk so deeglik gedoen dat hy respek van alle partye afgedwing het – selfs die ANC.

Trent het in hierdie tyd sy reputasie gevestig as ‘n streng, kundige en hardwerkende politikus wat korrupsie en wanbesteding kon uitruik en aan die lig bring soos niemand anders nie.

Terselfdertyd was hy een van die hartlikste en bes gemanierde politici in die land – ʼn allemansvriend met ‘n wonderlike sin vir humor wat by alle partye, departemente en gemeenskapsorganisasies se gesellighede ‘n spilpunt gevorm het.

In 1999 het die DP landwyd veel beter gevaar as in 1994; ook in die Oos-Kaap. Trent het in die provinsiale wetgewer aangebly en in 2000 leier van die nuut gestigte Demokratiese Alliansie (DA) in die Oos-Kaap geword.

In 2002 het Trent afgestaan as Oos-Kaapse DA-leier. Sy vrou, Elizabeth, was in daardie stadium – en vir baie jare – die DA se leier in die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit, wat Port Elizabeth, Uitenhage, Despatch en omliggende gebiede insluit.

Trent het tot in 2004 lid van die provinsiale wetgewer gebly, en in 2004 na die parlement in Kaapstad teruggekeer as DA-LP. In die vyf jaar tot hy in 2009 uitgetree het, het hy die DA verteenwoordig op die parlement se belangrikste waghondkomitee, die Staande Komitee oor Openbare Rekeninge (Skoor),

Dit was vir die puntenerige en hardwerkende Trent mislik om te ervaar hoe swak en slap Skoor in daardie tyd gefunksioneer het onder die futlose en gedienstige voorsitterskap van eers die Nuwe Nasionale Party (NNP) en toe die obskure Themba Godi van die APC.

Dit het Trent mateloos gefrustreer dat sowel die NNP as die APC die ANC so ter wille was dat Skoor basies nooit pro-aktief of dringend opgetree het nie – anders as in die dae toe die DP en later die IVP die voorsitterstoel beklee het, en anders as tans, met Skoor wat sy tande terug het danksy ‘n sterk IVP-voorsitter.

Trent het telkens gewaarsku dat grootskaalse korrupsie en wanbesteding besig is om ongesiens en ongestraf te floreer omdat Skoor in daardie dae so swak gefunksioneer het, maar hy was ‘n stem des roepende in die woestyn.

Eddie Trent is op Oujaarsdag 2020 omstreeks 20:30 oorlede nadat sy vrou hom in Januarie 2019 ontval het. Hy word oorleef deur drie kinders en verskeie kleinkinders. Begrafnisreëlings is nog nie bekend nie.

Bobby Stevenson, DA-leier in die Oos-Kaapse wetgewer, het in ʼn verklaring ook die party se meegevoel uitgespreek met Trent se afsterwe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.