Beloning verhoog om Kaapse boef vas te trek

Yanga Endrey Nyalara (Foto: SAPD)

Die Wes-Kaapse polisie het die beloning wat hy uitgeloof het vir inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van ʼn verdagte wat verbind word met ʼn aantal ernstige en gewelddadige misdade in die provinsie, verhoog.

Yanga Endrey Nyalara (30), ook bekend as Bara, word gesoek vir misdade wat vanaf 2016 in Khayelitsha en Kaapstad gepleeg is.

“Hy word as gewapen en gevaarlik beskou en moet nie genader word nie,” het kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, gesê. “’n Kontantbeloning van R100 000 word aangebied vir inligting van die publiek wat daartoe kan lei dat Nyalara aangekeer word. Alle inligting wat van die publiek ontvang word, sal as vertroulik hanteer word.”

Die beloning was aanvanklik R50 000, maar is intussen verhoog. “Lasbriewe vir sy inhegtenisneming is uitgereik. Daar is ook ’n moontlikheid dat hy in die Oos-Kaap, of ander dele van die land, kan wees.”

Nyalara se misdadige bedrywighede het in Kaapstad begin toe hy in 2016 by ʼn sakeroof betrokke was. Tussen 2018 en 2022 was hy glo by ander misdade in Khayelitsha betrokke. Hy word ook gesoek vir ʼn transitorooftog in 2018 in Libode in die Oos-Kaap.

Indien Nyalara vasgetrek word, sal hy teregstaan op aanklagte van moord, poging tot moord, aanranding, besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en die besit van onwettige ammunisie.

“Mense kan die betrokke ondersoekbeamptes onderskeidelik by 082 222 6744, 082 522 2281, 082 411 2042 en 082 469 1539 bel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

JohanR ·

Daar is net party in die wereld waar dit net beter is dat hulle uit die saamelewing verwyder word! Soos om ‘n hond se dinges nadat jy daarin getrap het, van jou skoen af te vee!

Di ·

Glo hulle sal hom kry, veral met die beloning wat uitgereik is! “you can run but you cannot hide”

Miena ·

ek is te bang om hier iets te se… netnou lees hy al die kommentare raak en besluit om n draai te kom gooi… ooh eh eh – ek hoop net die mannetjie word vinniger gevang as wat n malvapoeding in die winter koud word op die kas uit die warm-oond uit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.