Bemarkingsprojek om druk op familiewynboere te verlig

Kwagga Boucher, is ‘n wynmaker en nou ook die uitvoerende hoof van die Wynboer. (Foto: Verskaf)

Die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai) se wynbemarkingsprojek, Die Wynboer, is op Donderdag by die Marianne-wynlandgoed in Stellenbosch bekend gestel. Die Wynboer is ’n aanlyn wynwinkel wat daarop gemik is om familieboerwyne teen kelderdeurpryse aan verbruikers van reg oor Suid-Afrika beskikbaar te stel.

“Gedurende vlakke 4 en 3 van die inperking het Saai meer as 220 wynboere verteenwoordig in ’n hofsaak teen minister Nkosazana Dlamini-Zuma en ander om die verbod op die verkoop van wyn op te hef aangesien dié verbod ontsaglike skade aan die bedryf veroorsaak het. Die Wynboer is die tweede helfte van ons inisiatief om familiewynboere te help om hul bedryf weer aan die gang te kry,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

Tans beloop die skade aan die wynbedryf R7,5 miljard in die sewe maande sedert die inperking aangekondig is. Na raming is daar ’n oorskot van byna 400 miljoen liter wyn, wat meer as Suid-Afrika se plaaslike jaarlikse verbruik is.

Saai se wynbemarkingsprojek, Die Wynboer, is op Donderdag by die Marianne-wynlandgoed in Stellenbosch bekend gestel. (Foto: Verskaf)

Saai is erg bekommerd oor die duisende hektaar wingerde wat in die gedrang is en dat tot 80 familieplase verlore kan gaan.

“Van die oudste familieplase in ons land is in die Wes-Kaap geleë. As netwerkstruktuur vir familieboere is dit vir ons van kritieke belang om hierdie boere op hul plase te hou. Hierdie plase is nie net wynplase nie; daar is in die meeste gevalle ook ’n restaurant en akkommodasie op die plaas wat geweldig baie werk skep – veral op die platteland, waar werk broodnodig is. Dit is voorts ook ’n toerisme-aantreklikheid wat eie aan die Boland en die Wes-Kaap is,” sê dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai.

Aggressiewe bemarking van wyn kan veel meer as net die vernietigende impak van irrasionele Covid-19-regulasies teenwerk en bydra om van wynsurplusse ontslae te raak. Dit kan ook werkgeleenthede in stand hou, boere op hulle plase hou én die streek se ekonomie red.

Terwyl die owerhede nog absoluut niks gedoen het om die selfgemaakte krisis op te los nie, moet wynplaasfamilies die beste digitale en bemarkingstegnologie inspan vir die herstel van die bedryf.

Die Wynboer sal aanvanklik 10 wynplase se produkte op die webtuiste lys, waarna nog plase weekliks bygevoeg sal word.

“Hierdie platform gee aan elke verbruiker toegang tot wyne wat nie noodwendig plaaslik beskikbaar is nie. Dit skakel voorts ook die middelman uit, wat vir die wynboer meer waarde in sy sak beteken,” sê Kwagga Boucher, wynmaker en uitvoerende hoof van Die Wynboer.

“Hierdie webtuiste is meer as net ’n wynwinkel. Elke wynmaker het nou ’n platform om die storie van die plaas en die agtergrond van die wyne te vertel. Jy kan nie elke dag ’n familiewynplaas in die Kaap besoek nie, maar Die Wynboer stel jou in staat om elke dag ’n familiewyn by jou huis te geniet,” voeg Boucher by.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Anel ·

Baie goeie inisiatief. Baie sterkte en ek hoop vir baie sukses. Ook baie goed dat die middelman uitgeskakel word. Maak dit meer bekostigbaar vir die gewone man en meer geld vir die boer, wat hom toe kom. As ons ons nie self help nie, gaan niemand nie. Baie sterkte en sukses.

Francois Le Cochon ·

In die wynbedryf is daar nie iets soos die ” middelman” nie. Produsente verkoop direk aan die handel, d.i. kleinhandelaars, buite gebruik verkope en restaurante. Die naaste aan ‘n “middelman” is mense wat oorskot wyn van die kelder koop en dit bottel onder hul ‘n eie etiket (A nommer). Daarom is dit belangrik om wyne te ken. ‘n Goeie oorskot wyn onder ‘n ander etiket bied gewoontlik goeie waarde vir geld. A nommers kan verkry word van die Departement van Landbou. Hierdie lys van A nommers dui dan vele wynbottelerings besighede aan wat nie wynprodusente of wynkelders is nie.

Francois Le Cochon ·

Kelderdeurpryse? Die duurste plek om wyn te koop is by die kelders self. P’n P, Checkers en Makro se pryse is aansienlik laer as by die kelders vir dieselfde wyn. Wyn produsente kan net sowel wyn aankoop by hierdie kleinhandelaars, en dit dan teen ‘n wins by hul kelder verkoop.

Natasha ·

Jy het absoluut geen idee waarvan jy praat nie! Ek stel voor jy vind eerder die regte inligting uit voor jy jou so uitlaat!

Dup ·

Goeie idee maar ek weet nie van die kelderpryse nie.Dan moet koerierkoste ook bykom.Die hoofsaak is seker om al hierdie inisiatiewe te ondersteun.Ons boerdery gemeenskap het nou alle ondersteuning nodig.

Natasha ·

Verskillende wynplase werk met versillende reels, maar gewoonlik as jy bo ‘n sekere bedrag koop verval die koerierkoste, dan dra die kelder daai koste.

Louwrens ·

Indien minister van vervoer daarin slaag om wetgewing deur te voer van GÊN alkohol oin motor bestuurder nie sal restaurante wêreld probleme hê ek eet nie as ek nie ook my wyntjie beskaafd ook daar mee sam kan geniet nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.