Beneweld, verdwaas, besteel

(Argieffoto: Unsplash)

“Niks hiervan maak sin nie.”

Só het ʼn swanger ma van Centurion gesê nadat sy by die Centurion Mall vermoedelik bedwelm en daarna van die meeste van haar persoonlike besittings beroof is.

Die 32-jarige vrou sê ʼn vrou het haar in ʼn klerewinkel in die sentrum genader terwyl sy gewag het om te betaal. Die vrou het haar na ʼn ander vrou geneem, glo ʼn werker in die winkel, sodat sy kwansuis vinniger kon betaal.

“Ek het my goedjies neergesit en hulle het met my begin gesels. Toe ek myself weer kry, was ek besig om saam met hulle uit die winkel te stap. Ek weet nie waarom om nie. Alles is ʼn baie groot blur.

“Toe ek weer sien, het hulle al my goed gehad. My handsak, my beursie, my karsleutel, my trouring.”

Die vrou sê ʼn weldoener in ʼn ander winkel het haar in haar benewelde toestand aangeraai om die voorval dadelik by die sentrum se veiligheidspersoneel aan te meld. Sy het ook dadelik haar bankkaarte gaan stop, maar teen daardie tyd was R1 900 reeds uit een van haar rekeninge onttrek.

Die vrou sê die veiligheidsbeamptes was uiters behulpsaam en simpatiek en het saam met haar gewag tot haar man die motor se spaarsleutel kon bring. Hulle moes inderhaas iemand kry om na hul 11 maande oue dogtertjie om te sien en is daarna na die Lyttelton-polisiestasie om die voorval aan te meld.

Hier, sê die vrou, het sy opnuut getraumatiseer gevoel. ʼn Polisiebeampte het volgens haar eers aangevoer dit is ʼn blote versekeringseis waarvoor sy ʼn saaknommer benodig. Daarna is sy daarvan beskuldig dat sy self by die voorval betrokke was om die items van die versekering te eis.

“Ek was heeltemal getraumatiseer en het vir hulle verduidelik dis beslis nie net ʼn versekeringseis nie. Dit is ʼn misdaad. Ek wil dit rapporteer. Ek wil nie hê dit moet met ʼn ander vrou ook gebeur nie,” het sy gesê.

“My storie klink weird, ek weet. Hulle het my nie vasgedruk en my seergemaak en my goed gesteel nie. Maar ek was nie by my volle bewussyn nie.

“Ek sou nooit uit vrye wil my goed vir mense gegee het nie. As iemand my lewe bedreig het, ja.”

Die vrou, nou 14 weke swanger, sê sy was baie emosioneel ná die voorval. “In die polisiestasie was dit vir my baie erg. Niemand het gevra of het ek iets geruik, of het iemand aan my geraak of iets op my gespuit nie. As iemand vir jou kan sê jy was bedwelm, voel jy dalk minder dat dit jou skuld is.”

ʼn Polisiebeampte het haar wel herhaaldelik aangesê om haar emosies in bedwang te hou, het sy gesê.

“Dis vir my geen wonder dat vroue nie sake wil gaan aanmeld nie.”

Die vrou, ʼn finansiële beampte van Centurion, sê sy het nie ná die voorval vir ʼn urine- of bloedtoets gegaan nie, omdat sy gedink het enige moontlike dwelmmiddel sou dan al uit haar stelsel wees. Sy was wel intussen by die ginekoloog wat bevestig het dat die baba gesond is.

“Die baba is veilig. Dit is vir ons die belangrikste.”

Die vrou sê sy onthou wel die vrou in die winkel het aan haar arm gevat en bitter naby aan haar gestaan. Die oggend ná die voorval het sy naalde en spelde in een arm gevoel en was sy steeds effens beneweld. “Dit was asof jy dronk is; jy het beheer oor jou liggaam, maar jy is steeds nie hééltemal in beheer nie.”

Sy sê dit is vir haar belangrik dat ander vroue bewus is van enige moontlike gevaar.

(Foto: Centurion Mall/Facebook)

ʼn Woordvoerder van die Centurion-winkelsentrum het navrae na die polisie verwys.

“Die slagoffer het ʼn saak van roof by die Lyttelton-polisiestasie aanhangig gemaak. Omdat die ondersoek nog aan die gang is, kan ons nie in hierdie stadium kommentaar lewer nie.”

Kapt. Dave Miller, woordvoerder van die Lyttelton-polisie, het bevestig dat die polisie die saak ondersoek.

“Ons wag om te sien of die beeldmateriaal duidelik genoeg is om die verdagtes se gesigte te herken.

“Die werkwyse van die verdagtes is ʼn betreklik ou streek waar hulle beloof om die slagoffer afslag op aankope te gee en in die proses word die slagoffer oortuig om hul waardevolle items [by die verdagtes] te laat, terwyl die slagoffer hulle items gaan kry.”

Miller het gesê die polisie wil mense herinner dat boosdoeners baie oortuigend is en dat mense onder geen omstandighede hul waardevolle items aan wildvreemdelinge moet gee nie.

“As ʼn aanbod te goed lyk om waar te wees, is daar gewoonlik ʼn vangplek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Jana ·

Lyttleton polisiestasie moet uitgesorteer word. Dank die nuttelose beamptes af en stel ordentlikes aan. Dis nou die soveelste keer dat mens hoor van hoe slagoffers van misdaad sleg behandel is daar. Miskien sou sy haar emosies “onder bedwang” kon hou as sy gevoel het sy word geglo en die lui polisielede doen actually hulle werk!

Marinda ·

Dieselfde het met my dogter by Wonderpark Winkelsentrum so rukkie terug gebeur. Sy was in Ackermans en twee vrouens het ook na haar gekom en gese hulle werk daar en dat sy saam met hulle agter toe moet gaan want daar is baie klere wat op afslag is maar nie uitgesit word nie. Hulle sal vir haar gaan wys waar om te gaan, maar ongelukkig mag net sy alleen ingaan en moet sy haar handsak en alles wat sy by haar gehad het, daar by hulle los want sy mag dit nie saam invat nie. Sy was alreeds by die til gewees om te betaal vir die wat sy wou vat toe hulle haar nader. Sy het onmiddelik onraad vermoed en alles net so neergesit en onmiddelik die winkel verlaat

Frank ·

Ek wil graag kommentaar lewer maar ek weet nie wat om van hierdie voorval te dink nie.
Nie aan haar geraak nie, nie iets onder haar neus gehou nie. Net bedwelmd geraak agv iets wat hulle gedoen het? Hoop maar dis die volle waarheid wat sy praat, alhoewel dit nie sin maak nie.
Bottom line, die skelms raak al slimmer. Ons moet ten ALLE tye paraat wees, ook die mense om ons dophou om te sien of hulle nie tenagekom word nie.

Adriaan ·

Aangehaal uit die berig: “Die vrou sê sy onthou wel die vrou in die winkel het aan haar arm gevat …”

Snowball ·

Hierdie tipe roof het ook by ‘n winkelsentrum in Benoni gebeur ‘n paar jaar terug. Die voorval is destyds in die Benoni City Times gepubliseer. ‘n Mens kan eenvoudig niemand vertrou nie. Beste raad is om liewer niks van waarde (selfs kostuumjuwele wat eg lyk) te dra sodat hierdie tipe krimineel jou nie sal teiken nie.

Derek ·

Hoe kan jy die S APD vertrou? Dit blyk dat hulle eerder die misdadiger sal beskerm. Hulle moet n klag van crimen injura gaan open teen die beampte.

Stefan ·

Maar dit moet jy doen by dieselfde sapd wat jy nie kan vertrou nie?

Estelle ·

Lyk my Kapt Dave Miller is ook doof!!! Sy se mos sy het nie haar goed net vir die mense gegee nie. Wat verstaan die man nie, geen wonder mens kan niks meer aanmekd nie. Hul maak afleidings en luister nie regtig wat jy se nie.

Deon ·

Sy eie aannames kan hom op n dwaalspoor lei, soek na bokke wat weg is maar die skape is eintlik weg,

Hippo ·

Dieselfde ding het in een van die winkels in Parkrand gebeur. Ek dink hulle spuit jou met iets. Ons vrouens moet versigtig wees.

Cherokee ·

As ‘n polisieman aantygings gemaak het wat selfs net effe na beskuldiging klink, moet nie hom laat wegstap daarmee nie. Draai onmiddellik na die ander en sê hulle moet onthou wat hy gesê het. Of vra vir hom om dit wat hy sê, op skrif te stel. Hy sal skielik baie mak wees en sy woorde tel. Jy moet nie geïntimideer wees nie.

Niklaas ·

Dis nou ‘n nuwe misdaad metode. Die kriminele dink gereeld nuwe wyses van diefstal uit en is altyd’ n entjie voor die res van die mensdom met hul skelm ootredes, waarvan ons wetsgehoorsames nog nie eers gehoor het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.