‘Beskonke’ regter Motata dalk gou in staat van beskuldiging

Die foto van Nkola Motata is geneem kort nadat hy in Januarie 2007 onder die invloed van alkohol bestuur het en deur die tuinmuur van ‘n huis in Sandton gebars het.

Deur Tsoanelo Sefoloko, GroundUp

Afgetrede regter Nkola Motata kan die eerste Suid-Afrikaanse regter word om in ’n staat van beskuldiging geplaas te word.

Die appèlhof het vandeesweek beslis dat die Regterlike Dienskommissie (RDK) verkeerd was toe dit destyds bevind het dat Motata slegs skuldig is aan wangedrag – en nie growwe wangedrag nie – toe hy 15 jaar gelede onder die invloed van drank in ʼn muur vasgery het.

Die hof het Donderdag in ’n meerderheidsuitspraak bevind die RDK het die uitwerking wat Motata se rassistiese opmerkings – wat hy destyds op die ongelukstoneel gemaak het – op mense se vertroue in die regbank gehad het, heeltemal verontagsaam.

Motata is ná die voorval in 2007 strafregtelik vervolg en in 2009 in die Johannesburgse hooggeregshof aan dronkbestuur skuldig bevind.

Die RDK het egter nie die Geregtelike Gedragstribunaal se destydse aanbeveling gevolg en hom in ’n staat van beskuldiging geplaas nie. Pleks daarvan is hy ʼn boete van R1,5 miljoen opgelê.

Motata het sedertdien met volle voordele afgetree.

Die appèlhof het egter nou opdrag gegee dat die RDK begin met formele stappe om Motata – afgetree of nie – in ’n staat van beskuldiging te plaas nadat die drukgroep Freedom Under Law die hof genader het.

Motata het in Januarie 2007 in ’n muur vasgery toe hy onder die invloed van alkohol ʼn u-draai probeer maak het. Die eienaar van die eiendom het kort daarna op die toneel aangekom en ʼn video gemaak van die regter se dronk en rassistiese tirade.

Motata het deurgaans ontken dat hy dronk was en beweer dat hy op die toneel “uitgelok” is. Die bewering is egter later in sy verhoor voor die Johannesburgse hooggeregshof en sy verhoor voor die tribunaal verwerp.

Die appèlhof het voorts bevind dat die RDK en die hooggeregshof albei ook versuim het om die uitwerking op die publiek in ag te neem nadat Motata steeds toegelaat is om as “regter Motata” bekend te staan en steeds sy pensioenvoordele as afgetrede regter te ontvang.

“Regter Motata kon natuurlik enige tyd vir sy optrede verskoning gevra het, maar hy het nie,” lui die jongste uitspraak.

“Dit blyk dat hy, selfs ná die afhandeling van die strafregtelike verhoor, misluk het om te besef dat hy betrokke was by wangedrag van ʼn uiters ernstige aard. Dit openbaar sy gebrek aan insig en sy gebrek aan begrip vir die uitwerking van sy wangedrag op openbare vertroue in die regbank.”

Die hof het ook bevind nie net was Motata se gedrag skandelik nie, sy optrede op die ongelukstoneel is ook “gekenmerk deur rassisme, seksisme en vulgariteit”.

Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp gepubliseer en word met vergunning hier gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

domheks ·

Haaai!! nou kan CR hom gebruik vir die volgende kommissie van ondersoek! Weer vir werkskepping.

Amelia ·

En penny sparow was ook uitgelok maar sy moes maar betaal het dei mense kom te veel weg wil rasisties wees maar o wee as jy net skeef kyk

Amelia ·

Sal ons tjieng tjong tja speel om te bepaal watter een van ek of jy Amelia moet wees hier rond?

piet ·

Hy’t nie eintlik weggekom nie. Is skuldig bevind aan dronkbestuur in die hof en het later ook ‘n boete van 1,5 miljoen betaal vir sy wangedrag. 15-jaar terug ook gebeur, weet nie vir wat hulle nou nog wil aankarring nie, hy’s al afgetree.

Roek ·

Met volle salaris, lekker laaaang vakansie ! Glad nie beskore vir die arm man nie ! Onthou die staat verdedig hom , dit kos hom nie n sent nie !

Faraway ·

. . . in ’n staat van beskuldiging te plaas nadat die drukgroep Freedom Under Law die hof genader het.
Well done ouens!

Impact ·

Lekker man, so ry almal die soustrein! Sies man, ‘n Regter was iemand na wie ek opgekyk het in my tyd as regssekretaresse – nou sak ek maar my kop in skaamte want genade ons land gaan al hoe verder in die mynskag af!

Amelia ·

Heerlikheid, maar die ratte van die gereg draai darem stadig. Hoe lank gaan ons wag totdat Zuma en kie gevonnis word. 200 jaar?

marius ·

Hoe belangriker die pos hoe groter die arrogansie. Dit sal nie verander nie .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.