Beskuldigde 16 jaar ná plaasmoord verhoor

Carlo en Peggy van Litsenborgh by hul dogter, Marcelle Lambrechts, op haar troudag. Foto: Verskaf

Carlo en Peggy van Litsenborgh by hul dogter, Marcelle Lambrechts, op haar troudag. Foto: Verskaf

Op 24 September 2000 is Carlo van Litsenborgh (69), destyds ʼn bekende varkboer in die Paarl-gebied in die Wes-Kaap, koelbloedig in sy bed geskiet en met die agterkant van ʼn jaggeweer doodgeslaan. Twee aanvallers het sy vrou, Peggy, aangerand en vasgebind voordat hulle met juweliersware, kontant en ʼn vuurwapen op die vlug geslaan het.

Sipho Mlulo Mvumri is in 2001 tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir Litsenborgh se moord. Vandeesweek, byna 17 jaar later, word ʼn tweede beskuldigde, Mzwandile Tukwayo (52), op aanklagte van moord, ontvoering, roof en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie verhoor.

“Jy kom nooit daaroor nie. Jy leer net daarmee saamleef,” het Marcelle Lambrechts, een van die Van Litsenborgh-egpaar se vier dogters, vandeesweek aan Maroela Media gesê. Lambrechts was 32 jaar oud toe haar pa vermoor is. Haar ma is in 2015 oorlede.

“My ma se lewe was na my pa se dood nooit weer dieselfde nie. Sy is terug na die plaas toe, maar sy moes al hul lewende hawe verkoop. Sy het tot op die einde daar [op die plaas] gebly. Sy het gesê hulle het klaar haar man van haar af weggevat, hulle gaan haar nie van haar huis ook beroof nie.”

Peggy van Litsenborgh. Foto: Verskaf

Peggy van Litsenborgh. Foto: Verskaf

Lambrechts het destyds ook op die plaas in ʼn ander huis gebly en het haar ouers te hulp gesnel toe sy die betrokke aand onraad vermoed het. “My pa se hondjie het al die pad van hul huis af gehardloop en aan my deur kom krap. Hy het dit nooit gedoen nie, dus het ek dadelik geweet iets moet fout wees. Ek het die hond in my motor gelaai en na my ouers se huis gery,” vertel sy.

“Ek het gesien die ligte brand en ek het na ʼn buitedeur van een van die slaapkamers gestap. Voordat ek kon ingaan het my ma van binne af geskree ek moet gaan hulp kry. Die aanvallers was toe nog daar. Ek het na ons bure gejaag om hulp te kry. Toe ons terugkom, het die aanvallers klaar gevlug.”

Mvumri is kort na die aanval in hegtenis geneem en die daaropvolgende jaar gevonnis. Die polisie was egter meer as ʼn dekade lank op die spoor van die tweede aanvaller. “Ons kon nog nooit regtig afsluiting kry met die wete dat my pa se moordenaar op vrye voet is nie. Ek het hom allerhande goed toegewens,” sê Lambrechts.

Tukwayo is op 1 Junie 2016 in Germiston in hegtenis geneem. Sy verhoor het vandeesweek in die hooggeregshof in Kaapstad begin. Eric Ntabazalila, provinsiale woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê die verhoor sal na verwagting drie weke duur.

Mvumri het ook vandeesweek teen Tukwayo getuig.

“Toe ek vandeesweek daar in die hof sit en luister presies hoe hulle te werk gegaan het, hoe hulle in die gang af gestap het na die kamer toe waar hulle geweet het my pa lê en slaap… ek wou skree, hoekom het julle nie omgedraai nie? Hoekom het julle hom nie net gelos nie?” sê sy en haar stem breek. “Hulle het hom met die jaggeweer wakker geslaan. Die bloed was tot teen die plafon. Maar nee, dit was nog nie genoeg nie. Hulle moes hom in die gesig ook skiet.”

Marcelle Lambrechts (heel regs) saam met haar susters, Belinda Smit en Lizelle Theron. Hul vierde suster, Sonja du Toit, is nie aanwesig op die foto nie. Foto: Verskaf

Marcelle Lambrechts (heel regs) saam met haar susters, Belinda Smit en Lizelle Theron. Hul vierde suster, Sonja du Toit, is nie aanwesig op die foto nie. Foto: Verskaf

Sy sê sy vermoed die aanvallers het haar ouers dopgehou en reeds vooraf besluit om haar pa dood te maak om te verhoed dat hy hom teësit. “Ek dink hulle sou my ma ook doodgemaak het as ek nie daar aangekom het nie.”

Lambrechts sê hoewel sy verlig is dat ʼn tweede verdagte uiteindelik na al die jare aangekeer is, glo sy nie sy sal ooit ten volle berusting kry nie. “Dit sal seker help met ʼn mate van afsluiting as die hofsaak verby is, maar ek dink nie jy verwerk dit ooit regtig nie. Dit raak nie net vir jou nie, dit raak jou hele familie, tot die kleinkinders. Dit is verskriklik om hiermee saam te leef en dan daagliks daaraan herinner te word. Elke keer as jy lees van ʼn plaasaanval, onthóú jy weer. ʼn Mens moet aanbeweeg, maar jy dra dit saam met jou. Elke dag. Jy vergewe, maar jy vergeet nooit.”

Het sy dan haar ouers se aanvallers vergewe? “Ek het vir [Mvumri] vergewe, maar nie [vir Tukwayo] nie. Jy kan nie iemand vergewe wat ontken wat hy gedoen het nie. Ek is nog te kwaad vir hom. Ek het [Mvumri] vergewe, maar nie die daad nie. Dit was te wreed. Ek laat dit aan die Here oor om met hom te werk.”

Vir nou is die kosbare herinneringe van haar ouers haar troos, sê Lambrechts. “Jy beweeg aan, jy kyk vorentoe en jy vind ʼn manier om die seer saam met jou te dra.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
ada

Ai dis swaar. Ek dink aan julle al ken ek julle nie. My ouers is dood aan siektes en dit was erg so ek kan my nie indink waardeur julle moes gaan nie en nog steeds deurgaan

AL

Goeie nuus dat die 2de verdagte vasgetrek is. By hoeveel plaasmoorde en huisrowe is hy betrokke?
Hy sou tog weer sy geluk probeer het.

Sputnik

Iewers was daar darem ‘n wakker polisieman of twee gewees, al het dit baie jare gesluimer.

johnny

Het n huis gehuur by tannie peggy wanneer ek huur betaal het was dit koffie en snoepies dan het sy altyd gepraat van die oom ek sal haar hartseer nooit vergeet nie

johnny

Ek het n huis gehuur by tannie peggy wanneer ek huur gaan betaal het was dit koffie en koekies dan het sy net oor die oom gepraat dit is so hartseer sy het als in detail vertel hoe hul die oom vermoor het haar dogters was haar anker in die lewe sonja sterke johnny