Beskuldigdes se DNS onder naels gevind

Annie en Michael was smoorverlief. (Foto: Verskaf)

Sers. Chrissie van der Linde het in die rondgaande hof op Parys, Vrystaat, getuig dat Stanley Lingena (38) se DNS onder die naels van die vermoorde Michael Zantow (64) gekry is.

Volgens die DNS-resultate is die DNS wat op ʼn sigaretstompie op een van die moordtonele gevind is, ook dié van Lingena.

Lingena se regsverteenwoordiger, Phineas Mokoena, het egter daarop gewys dat dit nie onmoontlik is dat sy kliënt se sigaretstompie op die toneel gekry is nie, want hy het ten tyde van die moord vir Zantow en sy lewensmaat, Annie Liebenberg (62), as tuinier gewerk.

Zantow is op 20 Augustus by Liebenberg se oorlede ma se huis in Lateganstraat op die dorp vermoor en Liebenberg by die paar se huis in Watersonstraat. Die huise is net 230 m van mekaar.

Volgens die DNS-uitslae is sigaretstompies voor in Liebenberg se gesteelde wit Volkswagen Jetta gekry. Die DNS op dié stompies het ná DNS-ontleding bewys dat dit aan Lingena se medebeskuldigde, Sithembiso Hlongwane (28), behoort.

Van der Linde, die ondersoekbeampte in die saak, is op 23 Augustus danksy ʼn informant na Lingena en Hlongwane se onderskeie huise gelei.

Sithembiso Hlongwane (regs) en Stanley Lingena (links) (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Dit volg nadat die polisie die twee in Liebenberg se gesteelde Jetta in Zamdela, Sasolburg, probeer voorkeer het. Luidens getuienis het die verdagtes egter uit die motor gespring en gevlug.

By die verdagtes se huise het Van der Linde toestemming gekry om dit te deursoek en het sy op sommige van die paar se gesteelde goedere afgekom en daarop beslag gelê.

“Langs beskuldigde een (Lingena) se bed het ons ’n reissak gekry. Daar was onder meer vroueskoene en ook ’n beursie in die tas. In die beursie was bankkaarte met Liebenberg se naam op,” het Van der Linde getuig.

“Ons is daarna na Hlongwane se huis waar hy by ons aankoms op die toneel probeer vlug het. Hy is egter onmiddellik weer aangekeer. Ons het ook langs sy bed ’n groot asook ’n kleiner reistas gekry en ander los items, soos ’n kamerasak met ’n kamera en batterye daarin.”

Die polisie het op die items beslag gelê en Lingena en Hlongwane in hegtenis geneem.

Sleutelgetuie landuit

’n Sleutelgetuie in die saak wat verlede jaar ’n verklaring by Van der Linde afgelê het, was veronderstel om tydens die verhoor te getuig, maar is intussen terug Mosambiek toe, van waar hy glo kom.

Volgens Van der Linde het die polisie maande lank na die getuie, Jabulani Mbaza, gesoek, maar hulle kon hom nie opspoor nie. Inligting het onlangs bekend geword dat hy in Mosambiek is.

Regter Celeste Reinders het bevind dat dit in belang van geregtigheid sal wees indien Mbaza se verklaring as getuienis gebruik word. Sy het gesê dit speel ’n belangrike rol in die saak.

Adv. Antoinette Ferreira, staatsaanklaer, het aan die hof gesê dit is onduidelik of die getuie dalk voorgesê is om te vlug. “Ons kan nie daaroor bespiegel nie,” het sy gesê.

Volgens die verklaring het Mbaza op 24 Augustus (vier dae ná die moorde) vir Van der Linde by die polisiestasie op Sasolburg voorgekeer met ’n swart tas en ʼn tablet.

Luidens sy verklaring het die twee verdagtes op Sondag 22 Augustus omstreeks 10:30 by sy salon op Zamdela aangekom.

“Hlongwane het gevra of ek sy tablet sal herlaai, want hy het nie elektrisiteit in die informele nedersetting waar hy woon nie. Ek het ingestem en hy het die tablet en ’n swart tas by my gelaat. Hy [Hlongwane] het gesê hy sal later die items weer kom haal,” lui Mbaza verklaring.

Die verdagtes is toe daar weg.

“Ek is die volgende dag na ’n hardewarewinkel en toe ek by die salon terugkom, het ek die boodskap ontvang dat die polisie op my spoor is. Ek het gewag dat die polisie terugkom en was bang hulle dink ek het weggehardloop.

“Hulle het nie gekom nie en ek het toe die volgende dag self na die polisiestasie gegaan. Ek het vir die polisie gesê ek het gehoor Hlongwane en Lingena is in hegtenis geneem.”

Volgens Van der Linde het Liebenberg se familie vasgestel dat die tablet aan Liebenberg behoort het. Hulle het die tablet uitgeken aan ʼn kraak op die skerm.

Die saak gaan Woensdag voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Swerwer ·

Mag die sleutels weggegooi word en hul nooit ooit in hul lewe weer daglig sien nie.

Leon ·

Dankbaar dat daar nog toegewyde ondersoek beamptes is. Dankie Sers vd Linde dat jy die SAPS n loopbaan gemaak het. Alle sterkte

Harley Davidson ·

Bitter,bitter min maar ek gee toe daar moet nog ‘n paar oor wees versprei oor die hele land met die klem op bitter min.

Watsenaam ·

Ek Sien met die -2 daar is ouens wat verskil. waaroor weet ek nie?

Harley Davidson ·

Ek stem saam die 2 afduimpies weet duidelik nie wat aangaan in Orania nie,die departement wat die minste werk daar is die sekerheid dienste en omrede daar min of geen misdaad is nie .

Harley Davidson ·

Ek hoop mense leer hieruit los jou luiheid en maak jou eie huis skoon en as jou tuin te groot is verander hom sodat die instandhouding minimaal is en raak ontslae van huishulpe en tuin werkers anders is jou kans groot om in Suid-Afrika vermoor en beroof te word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.