Bestryders spook deurnag met brand op wynlandgoed

Die brand op die Lourensford-wynlandgoed. (Foto: Verskaf)

Kaapse brandbestryders moes Woensdag bontstaan met twee brande wat onderskeidelik in die omgewing van die Lourensford-wynlandgoed in Somerset-Wes en Tableview naby Kaapstad gewoed het.

Twee brandbestryders van die Stad Kaapstad het verlede nag beserings opgedoen terwyl hulle die brand op die Lourensford-wynlandgoed bestry en ’n watertenker by ’n wal afgerol het. Albei brandbestryders is ná die voorval hospitaal toe geneem, maar intussen weer ontslaan.

’n Brand het Woensdag laatmiddag glo in die verouderde denneplantasie op Lourensford ontstaan waar die gemengde plantegroei, buitengewone hoë temperature en droë weer vermoedelik die brand tot gevolg gehad het.

Jermaine Carelse, woordvoerder van die brand-en-reddingsdienste in Kaapstad, sê brandbestryders is om 16:22 na ’n brand teen die hange van die Helderberge by Lourensford ontbied waar ʼn uitgebreide gebied van plantegroei gebrand het.

Die brand op die Lourensford-wynlandgoed. (Foto: Facebook)

Die brand het egter later na die hoë ontoeganklike gebiede versprei vanwaar dit in die Grootnek-omgewing, tot in die Kaapse Wynland, inbeweeg het.

Jo-Anne Otto, woordvoerder van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit, sê die munisipaliteit se grondspanne van sowat 40 lede is Donderdag in die vroeë oggendure na Lourensford ontbied om hand by te sit.

Die spanne het deur die nag onverpoosd gewerk en geen eiendom is in hierdie stadium in gevaar nie, het Carlense vanoggend gesê.

Die brand woed tans in ʼn onbegaanbare gebied in die omgewing van Grootnek. Lughulpbronne sou na verwagting vanoggend ontplooi word.

Die brand op die Lourensford-wynlandgoed. (Foto: Facebook)

Stephan Durand, lid van die plaaslike buurtwag in Somerset-Wes, het vanoggend aan Maroela Media gesê die weerstoestande is egter tans gunstig.

“Hier is basies geen wind nie. Hy brand bo in die berg op ontoeganklike terrein maar ’n helikopter sal glo vandag ingespan word om die vlamme te blus. As die wind bly soos dit nou is – lyk dinge positief.”

Die Stad Kaapstad se brand-en-reddingsdienste het tans meer as 15 brandbestrydingstoestelle en 60 brandbestryders op die toneel.

Riete brand in Tableview

Die metro se brand-en-reddingsdienste het ook Woensdag ná 11:00 ’n noodoproep ontvang oor riete wat in Gillweg in Tableview brand.

Die rook was tot in die middestad van Kaapstad sigbaar, vertel Carelse.

“ʼn Uitgebreide gebied riete het afgebrand. Geen eiendom is beskadig nie en geen beserings of sterftes is aangemeld nie.”

Die oorsaak van dié brand is nog onbekend.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Samuel ·

Die temperatuur was beslis nie so hoog in Tableview nie. Seker maar plakkers wat iets laat brand het, want langs daardie riete plak mense omdat hulle mag. Die Stad Kaapstad se brandweer het vinnig en effektief reageer. Dankie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.