‘Bestuurdersfout’ oorsaak vir dodelike Tshwane-busongeluk  

M17 ongeluk

Altesaam 15 mense is op die toneel dood verklaar terwyl 37 mense beseer is. (Foto: Tshwane-nooddienste)

Die gru-botsing waarin 15 mense verlede week in Tshwane dood is, is volgens ’n voorlopige ondersoek veroorsaak toe ʼn vragmotor in die baan van ʼn aankomende bus ingery en dit reg van voor getref het.

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het Vrydag op  ʼn nuuskonferensie die verslag oor dié noodlottige ongeluk bekend gemaak.

Mbalula het die ongeluk aan ʼn “bestuurdersfout” toegeskryf.

Maroela Media het vroeër berig dat die ongeluk op 10 Junie omstreeks 05:00 op die M17 (Hornsnekweg) naby die Bundu Inn-oord, noord van Pretoria, plaasgevind het. Altesaam 15 mense is op die toneel dood verklaar terwyl 37 mense beseer is. Mbalula het die ongeluk as een van die ergste ongelukke nóg in Suid-Afrika beskryf.

Luidens die verslag was weersomstandighede op die betrokke dag goed en kon dit geensins tot die ongeluk bygedra het nie.

Die pad was ook in ʼn taamlike goeie toestand en is as ʼn bydraende faktor uitgeskakel.

“ʼn Meganiese ondersoek is op albei voertuie gedoen en daar is bevind dat alles in orde was. Daar was geen meganiese foute of probleme nie. Albei voertuie was padwaardig,” het Mbalula tydens die konferensie gesê.

Die bestuurders van die bus en die vragmotor het ook geldige bestuurslisensies en permitte gehad.

“ʼn Bestuurdersfout was die grootste bydraende faktor tot die ongeluk. Die vragmotor het uit sy eie baan in die baan van die aankomende bus inbeweeg. Dit het veroorsaak dat die voertuie reg van voor gebots het.”

Volgens Mbalula was die bestuurder van die vragmotor, wat ook in die ongeluk dood is, ʼn buitelandse burger. Hy het egter al die nodige dokumentasie gehad om in die land te mag wees en te werk.

Hoewel die saak vir verdere ondersoek aan die direktoraat vir openbare vervolging oorhandig sal word, sê Mbalula dat niemand van roekelose en nalatige bestuur of strafbare manslag aangekla kan word nie aangesien die bestuurders dood is.

Mbalula sê bus- en vragmotorongelukke is ʼn groot probleem aangesien dié ongelukke gewoonlik baie slagoffers eis. Dit gebeur ook dikwels omdat bestuurders padreëls verontagsaam.

“Die pyn weens dié ongelukke word deur talle huishoudings gevoel wat sonder broodwinners en kinders gelaat word, asook talle kinders wat gevolglik sonder ouers moet grootword.”

Volgens Mbalula staan die departement van maatskaplike ontwikkeling, asook die Padongelukkefonds (POF) die beseerde slagoffers en gesinne van die oorledenes by.

Hy sê ingrepe is nodig om die toenemende ongelukke waarby busse en swaar voertuie betrokke is, te beperk. Vragmotors maak volgens die minister ook al meer gebruik van agterpaaie en munisipale paaie – soos in die geval van dié grusame ongeluk – in plaas daarvan om op nasionale en provinsiale paaie te hou.

“Die nasionale padveiligheidsraad moet strategieë hersien. Swaar voertuie moet nasionale en provinsiale paaie gebruik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Di ·

Stem saam met die stelling “Swaar voertuie moet nasionale en provinsiale paaie gebruik.” Trokke EN Taxis is verantwoordelik vir die meerderheid pad ongelukke op agter paaie. Trokke dra ook grootliks by tot die verwoesting van hierdie paaie.

JSB ·

Is die lisensie ooit wetig. Die probleem van swaar trokke op die paaie is groot probleem. Dit moet na treine geskuuf word.

Daleen ·

Treine wat op watse spore gaan ry JSB. Ons spoorvervoerstelsel bestaan nie meer nie agv ANC onbevoegdheid en korrupsie en daarom is daar so baie trokke op die pad. Gaan jare neem voor dit verander indien ooit.

Witbaard ·

Dis wat gebeur as jy n lisensie bekom sonder die nodige vaardighede. Dan boet onskuldige passassiers met hulle lewens.

Chris dupreez ·

Bestuurders fout, wat n grap. Dit was veroorsaak deur n absolute roekelose en nalatige bestuurder.

Swerwer ·

Spoornet is in sy maai , die paaie infrastruktuur is in sy maai, so wat bly oor. ‘n Groot geraas en bohaai sodra daar ‘n ongeluk plaasgevind het waar ANC Kaders betrokke en beseer is maar nogsteeds word daar zulks aan die probleem gedoen.

marius ·

Nie bestuurdersfout nie . Dis starfbare manslag as gevolg van roekelose bestuur . En hierdie perd was die minister van polisie ?

Racheltjie Debeer ·

Die vragmotor besuurder was tien teen een baie moeg en uitgeput, want vervoermaatskappy verwag die onmoontlike van hul drywers. Drywers moet soveel as moontlik vragte ry, ongeag van hoe moeg hulle is.

Anel ·

Wel, as ons spoorstels behoorlik gewerk het en nie stuk stuk weggedra was nie, sou ons paaie ook in ‘n beter toestand gewees het. Maar nou ja, dit is mos ook onder die vaandel van werkskepping. Menselewens beteken niks in hierdie land nie.

Hennie ·

Snaaks dat hierdie verslae slegs vrygestel word as die bestuurder dood is.

piket ·

Ja, as die spoorweë in stand gehou was, sou ons nie al die duisende swaar voertuie op die paaie gehad het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.