Dodetal styg ná gru-ongeluk in Tshwane

M17 ongeluk

Die dodetal ná ʼn grubotsing Vrydagoggend in Tshwane het tot 15 gestyg. (Foto: Tshwane-nooddienste)

Die dodetal ná ʼn grubotsing tussen ʼn bus en ʼn vragmotor Vrydagoggend in Tshwane het intussen tot 15 gestyg.

Charles Mabaso, woordvoerder vir die Tshwane-nooddienste, sê agt vrouens en sewe mans is op die toneel dood verklaar terwyl 37 mense beserings opgedoen het.

Maroela Media het vroeër berig dat die ongeluk op die M17 (Hornsnekweg) naby die Bundu Inn-oord noord van Pretoria plaasgevind het. Die voertuie het mekaar omstreeks 05:00 vanoggend reg van voor getref.

Die dodetal ná ʼn grubotsing Vrydagoggend in Tshwane het tot 15 gestyg. (Foto: Tshwane-nooddienste)

“Paramedici het 15 mense op die toneel dood verklaar terwyl 37 pasiënte na onderskeidelik die Dr. George Mukhari-, Steve Biko- en Kalafong-hospitaal is. Minstens 26 pasiënte het geringe tot matige beserings opgedoen, vier matige tot kritieke beserings en sewe mense kritieke beserings,” het Mabaso in ʼn verklaring gesê.

Die M17-pad, tussen die N4 en K8 in Rosslyn, sal na verwagting vyf uur lank vir verkeer gesluit wees terwyl ondersoeke en opruimingswerk voortduur.

Verskeie mense het met nooddienswerkers se aankoms op die toneel oor die pad versprei gelê terwyl ander nog in die voertuie vasgekeer was.

“Tshwane-brandweerdiens, Gauteng-nooddienste en private ambulansdienste het onmiddellik met die behandeling en bevryding van pasiënte begin.

Die oorsaak van die ongeluk is nie in dié stadium bekend nie en sal deel van wetstoepassingsowerhede se ondersoek uitmaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Chris dupreez ·

Daai stuk pad het kronkels en aanhoudende sperstrepe.

Patch ·

Soveel gesinne wat nou sonder broodwinners moet klaar kom. Baie hartseer.

Tersia ·

Oorsaak nog nie bekend nie.

Kom ek vertel julle wat is die oorsaak
Menslike ongeduld
Menslike waaghals,
Spoedgrense wat oorskry word
Padreels wat verontagsaam word
Drywers wat nie ander padgebruikers of passasiers se lewens in ag neem nie
Onpadwaardige voertuie
Die land se paai wat in chaos is
Haastigheid
Maatskappye wat drywers druk

En die lys kan nog aan gaan.
Op die oueinde is daar families en gesinne wat net soos die wrakstukke vandag opgebreuk is en oral besaai is want ons as mens het die waarde vir ander se lewens verloor.

My hart gaan uit na elke persoon wat geraak is deur die. Nie net die slagoffers en hulle families nie maar ook al die nood personeel wat die toneel moes aanskou.

Nie Verbaas ·

Moenie vergeet van die wat op paaie bestuur wie se lisensies gekoop is nie. Ons liewe ou korruptes wat absoluut geensins aan nagevolge dink nie want die intellektuele tekort is oorheersend.

Misky ·

My vermoede is spoed. Ek het nou die dag op die Durban N2 gery en ‘n passasiersbus het verby my gekom. Ek het 120 km p/h gery en dit het gelyk of ek parkering soek soos hy verby gejaag het.

Eden ·

Ons weet mos wat is die oorsaak: roekelose taxi-bestuurders. Behalwe dat mense daagliks hul lewe so verloor gaan niks verder verander nie. Die regime is mos bang vir die taxi mafia.

Martin ·

Maatskappye wat busse in diens het moet vehicle trackers gebruik om hulle drywers te monitor. Ons maatskappy gebruik vehicle trackers in al ons voertuie en ons het die vermoë om ons voertuig vloot en drywers te monitor. Die bestuurders se bestuur data word automaties gesave op ‘n server en jy kan tot en met 12 maande terug gaan om data af te laai, ons kry ook realtime informasie indien ‘n drywer die wet oortree wat die presiese tyd, plek, spoed en ‘n satteliet foto wys.

Swerwer ·

Genade maar die voertuie lyk sleg. Spoed, verontagsaming van verkeers/padreëls………..onbevoeg om voertuig te bestuur, wettige bestuurslisensie? Daar is soveel wat ‘n rol in so ‘n ongeluk speel. Simpatie met die naasbestaandes van die oorledenes.

Samuel ·

Dit is ‘n uiters tragiese voorval. Dit kon seker verhoed word?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.