Beurtkrag ontwrig reeds eerste matriekvraestel

skole matrieks matriekeksamen

(Argieffoto: Maroela Media)

Gr. 12-leerders het Dinsdag nog net die eerste vraestel van die matriekeindeksamen afgelê en beurtkrag het reeds ʼn tol begin eis. Leerders het die eerste vraestel vir rekenaartoepassingstegnologie (CAT) afgelê.

Altesame 745 965 voltydse en 167 915 deeltydse kandidate is geregistreer vir die eksamen en 6 307 openbare en 587 onafhanklike sentrums sal tot 6 Desember as eksamenlokale dien. Die ligte vir die altesame 162 vraestelle moet egter aangehou word en dit is in sommige gevalle reeds ʼn haas onbegonne taak.

ʼn Pretoriase onderwyseres wat met Maroela Media gepraat het, sê sy is diep bekommerd oor die uitwerking van kragonderbrekings op leerders se prestasie. Leerders in die eerste sessie by die skool het 07:00 aangemeld en 08:00 met die eksamen begin. Beurtkrag het egter om 10:00 ingeskop en met geen kragopwekker om die rekenaars aan die gang te hou nie, is die sessie twee uur lank opgeskort.

In hierdie tyd moes leerders tjoepstil in die lokaal sit, sonder iets om te eet of te drink, met badkamerbesoeke wat onder toesig plaasvind.

Ná 12:00 is die eksamen hervat. Leerders vir die tweede sessie het om 10:00 aangemeld, maar weens die oggend se beurtkragvertraging kon hulle eers ná 16:30 met die eksamen begin. In hierdie tyd is daar inderhaas kragopwekkers gereël vir die volgende ronde beurtkrag wat om 18:00 ingeskop het. Een van die opwekkers het egter die gees gegee en dié leerders sal nou die aanvullende eksamen op 7 Desember moet aflê.

“Die stres bou geweldig op. Van die meisies het begin huil. Een het vir my gesê dit is haar toekoms hierdie. Die beurtkrag is nie ʼn verrassing nie. Ons moet ʼn plan maak; dit is mos jou kinders hierdie,” het die onderwyseres gesê.

“Ek dink die leerders gaan swak presteer. Al hierdie faktore dra daartoe by.”

Die parlementêre portefeuljekomitee oor basiese onderwys het intussen gister gehoor daar is groot kommer oor beurtkrag en kragonderbrekings, veral rakende tegniese vakke soos CAT en inligtingstegnologie.

Die departement van onderwys het aan LP’s gesê hy het ʼn noue werksverhouding met Eskom om beurtkrag tydens die eksamen tot die minimum te beperk.

In hierdie stadium word daar egter steeds tussen fase 3 en fase 4 van beurtkrag gewissel.

Mathanzima Mweli, direkteur-generaal van basiese onderwys, het ook aan die portefeuljekomitee gesê hulle is bekommerd oor die negatiewe uitwerking van beurtkrag op leerders se prestasie in die eindeksamen. “Moeilik soos dit is, het die departement riglyne neergelê oor hoe om dit te hanteer en ons waardeer die kreatiwiteit waarmee sommige skole vorendag kom.”

Uitslae

Die minister doen op 19 Januarie ʼn aankondiging oor die matriekuitslae en provinsiale uitslae word ʼn dag later bekend gemaak.

Slegs leerders en hul ouers wat toestemming daarvoor gegee het, se uitslae sal in koerante en op ander mediaplatforms gedeel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Danie ·

Wat gee die spul om hulle mense sit in graad 12 met die jong ouderdom van tot 25 jaar.Ons mense het toekoms drome en doelwitte om te bereik.

Daniel ·

Dis n storie dat die kinders swak gaan presteer oor die krag wat in hulle koppe is kan Beurtkrag nie verander nie.Net die wat nie hul werk ken nie sal kla

Onnie ·

Die aflê van die RTT en CAT vraestelle hang 100% af van beurtkrag. Maak nie saak hoe goed jy jou werk ken nie – as die krag afskop en jy moet ure sit sonder kos of water of ‘n behoorlike badkamerbreek, en dan as jy al moeg en jou brein voos is, moet jy jou beste gee??

Samuel ·

Hierdie swak omstandighede pla nie die kaders nie. Ek glo die leerders sal stres.

Blikkies ·

Al die grootkoppe spreek net hulle bekommernis uit, Maar beplan hulle om iets te doen daaraan!

Anel ·

Hulle voel ‘n veer vir ons kinders. Is meer bekommerd oor die wie se name of nie in die koetante gaan verskyn!!!!

Johann ·

Ergste is die wat veronderstel is om om te gee en die omvang te besef en actually iets te DOEN, is besig met politiekery ter wille van ‘n mags spel agenda.

Nico ·

Maar die ministers (waarvan sommige nie eers Matriek het nie) se krag bly aan ……

Peter ·

Die 30%ers in beheer voel niks vir die matrieks, vir hulle is dit maar deel van om in die sirkus banana republiek te woon

Nettie ·

Hierdie is baie erg op die kinders. Ek glo hulle moet werklik gestres wees. En om 2 ure tjoepstil te sit met niks om te doen nie, en 5 of 6 ure sonder vloeistof te wees in hierdie hitte is glad nie goed nie. Dis ‘n onredelike situasie.

Kon die mense wat die eksamens beheer nie dit beter beplan en organiseer ter wille van die kinders nie? Begin dan 6am die oggend as dit moet?

Maar ja, hulle is seker ook maar min tyd gegee en hoe bereik jy al die kinders wat na jou lokale moet kom, en almal oor die land moet seker dieselfde tyd dit afle en nie almal het vroeg al vervoer nie. Ek weet nie, maar mens sou dink die Departement van onderwys kan bietjie ingryp en help organiseer en beplan! Dis tog hul werk!

Keelvol ·

Moes die skole nie beter beplan het nie? Ek meen, ons is tog nou al in week 7 van die beurt Krag sonder enige tekens van verligting. Danksy de ruyter…..

Johan ·

Onthou die matriek eksamen se skryftye word aan skole gegee, hulle kan nie self besluit hoe laat hulle met die eksamen begin nie. Sekere skole het net nie die finansies om kragopwekkers te koop nie. Skole is nie veronderstel om beplanning te doen vir iets wat die Staat daar moet stel nie. Maar ja dan is daar onderwysers wat uit hul eie sakke die nodige reëlings sal tref en vir hulle se ek baie dankie.

Onnie ·

Hoekom word daar van skole verwag om ‘n reëling te tref vir beurtkrag?? Die matriekeindeksamen is ‘n Departementele eksamen wat op HULLE voorwaardes en HULLE tye MOET geskied – dus voel ek HULLE moet verseker dat leerders die eksamen, sonder onderbrekkings en onnodige ekstra stres, kan aflê. Die Dept gooi net die bal in die skole se baan as hulle nie self met ‘n oplossing vorendag kan kom nie. Op alle ander geleenthede word skole en opvoeders heeldag dikteer oor wat en hoe en waar hul dinge mag doen. Eks al so moeg en siek en sat.

Onnie ·

Die ministers het nie beurtkrag by enige van hul 2 huise nie, maar die belangrikste eksamen van jou skoolloopbaan word deur beurtkrag gekniehalter?? Only in SA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.