Bevel gevra teen Mboweni se SAL-plan

(Foto: Maroela Media)

Die DA het ʼn dringende hofaansoek in die Pretoriase hooggeregshof ingedien om nóg ʼn reddingsboei aan die sukkelende Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) te probeer stuit.

Die DA vra dat die gebruik van art. 16 van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur verbied word om nog geld vir die lugdiens te gee. Die spesifieke wetgewing gee aan die minister van finansies, in dié geval Tito Mboweni, sogenaamde noodmagte om onder “buitengewone” en “onvoorsiene” omstandighede geld te bestee waarvoor nie begroot is nie.

Mboweni en sy eweknie by openbare ondernemings, Pravin Gordhan, het vandeesweek onderneem om finansiering beskikbaar te stel vir die SAL se onmiddellike en langtermynbehoeftes in die uitvoer van die SAL se sakereddingsplan. Dit was in daardie stadium nog onduidelik presies waar dié reusebedrag gevind gaan word omdat Mboweni glad nie in sy onlangse aanvullende begroting geld vir die SAL opsy gesit het nie.

Die sakereddingsplan vereis ʼn bedrag van R10,1 miljard om die plan te finansier, die balansstaat te stabiliseer, die res van die groep te herstruktureer en lopende kapitaal te verskaf vir die res van die groep se entiteite om ʼn stabiele en lewensvatbare platform te skep. Die koste om sowat 2 700 werknemers af te lê beloop R2,2 miljard. Die staat het hom ook verbind tot ʼn waarborg vir die R16,4 miljard skuld wat aan die lugdiens se krediteure verskuldig is.

ʼn Brief met die regering se verbintenis hiertoe is reeds onderteken en aan die sakeredders gestuur.

Die DA het Donderdag gewaarsku dat hy regstappe gaan doen sou die regering weer sy sakke vir die SAL skud en het Vrydagoggend sy hofstukke ingedien.

“Nog ʼn openbare reddingsboei vir die SAL voldoen nie aan die definisie van onvoorsiene noodgeval nie. Om dit as ʼn voorwendsel te gebruik om die SAL weer uit sy penarie te red, sou onregmatig wees,” het Geordin Hill-Lewis, die DA se woordvoerder oor finansies, gesê.

Die DA het Mboweni gister in ʼn prokureursbrief gevra om skriftelik te bevestig dat hy nie art.16 sal gebruik om die SAL weer uit die moeilikheid te kry nie. “Hy het nie geantwoord nie, dus nader ons die hof,” het Hill-Lewis gesê.

Mboweni het tot Sondag om 17:00 om ʼn beantwoordende verklaring in te dien.

“As Mboweni reeds die geld na die SAL oorgeplaas het – op grond van sy ondersteuningsbrief – vra die DA vir ʼn interdik wat die gebruik van die geld verbied hangende die uitspraak in die hofaansoek.

“As die geld nog nie oorbetaal is nie, vra die DA ʼn interdik teen die oorbetaling.”

ʼn Regsmening wat die parlement in 2017 verkry het en wat verband gehou met ʼn reddingsboei van R3 miljard wat die destydse minister van finansies, Malusi Gigaba, aan die SAL wou gee, het bevind dat die oproep van art. 16 waarskynlik onwettig sou wees.

“Die DA is verbind tot die verstandige gebruik van openbare hulpbronne om aan die behoeftes van Suid-Afrikaners te voldoen, veral noudat miljoene hul werk weens Covid-19 kwyt is.

“Om die SAL uit die moeilikheid te help is ʼn eties onverdedigbare keuse gegewe die armoede en lyding wat so baie mense in die land in die gesig staar,” het Hill-Lewis gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pieter ·

Geen interdikte kan op hierdie stadium verhoed dat die geld oorbetaal word nie. Dis te klaar te laat. Alle hofsake teen ongeldige inperkings wat menseregte skend het geen veranderinge laat plaasvind nie. Lyk my die regering se besluite is nie ondergeskik aan ons regstelsel se uitsprake nie. Almal doen net wat hulle wil ongeag die hofbevele…………..

marius ·

Die mense giggel oor die onuitvoerbare bevele wat die DA miljoene kos .

Sarel ·

Die DA het jare gehad om.in te gryp by die Staats Entiteite. Hoekom nou eers.

koos10 ·

Vir die staatsdiens werkers word daar vertel daar is nie geld nie, maar op die tempo wat die regering dit uitdeel, is dit nog ‘n lieg storie.
Tito en Pravin, tyd dat julle die unies saam met julle kollegas moet te woord staan.

Pieter Rubeus ·

Hierdie is klink klaar die bewys dat die regering nie vir sy mense staan nie. 10 Biljoen rand kan baie mense kos en werk gee. 2700 werksgeleenthede is nie voldoende werkskepping vir die tipe geld nie en dit is duidelik bedoel om na ander se sakke te gaan onder die rookskerm van die SAL!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.