Binnelandse sake mors R147 miljoen op asielprojek

Argieffoto (Foto: © UNHCR/James Oatway)

Die ouditeur-generaal het in 2020 waarskuwingsligte laat flikker toe daar aangedui is dat die agterstand met die asielappèlprojek die departement van binnelandse sake sowat 68 jaar sal neem om op te los.

Die Verenigde Nasies se hoë kommissaris vir vlugtelinge (UNHCR) het in 2021 ʼn bedrag van R147 miljoen aan die departement betaal om 153 391 agterstallige besluite in te haal.

“Die finansiering wat vir dié agterstandprojek verskaf is, is net soos meeste ander inisiatiewe deur die departement, vermors,” sê Angel Khanyile, die DA se skaduminister oor binnelandse sake.

Die UNHCR en die departement het gesê dat die projek, om die agterstand in te haal, sowat vier jaar sal duur.

“En tog, ná ʼn vraag aan die minister, het die DA onthul dat die departement klaaglik misluk om die agterstand in te haal en die UNHCR se finansiering is verkwis. Die Vlugtelinge Appèlowerheid van Suid-Afrika (Raasa), wat onder die departement se vaandel staan en asielappèlaansoeke moet hanteer, het tans 113 689 besluite wat geneem moet word.

“Dit is kommerwekkend dat hierdie getal nie die volledige omvang van die agterstand by Raasa reflekteer nie, en stem nie ooreen met die departement se reaksie op 1 Maart 2024 dat slegs 10 890 sake deur die agterstandprojek geprosesseer is nie (waarvan talle steeds nie gefinaliseer is nie).”

Die departement van binnelandse sake het boonop tussen April en Desember 2023 altesaam 15 000 nuwe aansoeke vir asiel geprosesseer en dit dra by tot die massiewe agterstand.

“Van die oorspronklike 30 lede wat vir Raasa aangestel is met die fondse wat verskaf is vir die projek, is slegs 10 nog oor om die nimmereindigende agterstand te probeer inhaal.”

Die departement se konsep-witskrif oor burgerskap, immigrasie en vlugtelingbeskerming bied geen tasbare plan om die kwessie te takel nie.

“Die gevolge van hierdie agterstand is dat dit die stelsel kwesbaar maak vir misbruik deur persone wat nie vlugtelinge is nie (met ander woorde iemand wat nie weens vervolging vlug nie), en laat hulle toe om vir lang periodes in die stelsel te bly. Diegene wat wel vlugtelinge is, en beskerming verdien, moet tot 10 jaar lank wag vir ʼn finale besluit.”

Khanyile sê die departement het meer as R147 miljoen vermors sonder dat enige werklike vordering gemaak is of enige oplossing aangebied is.

“Die DA doen ʼn beroep op die departement om regverdige, deursigtige en doeltreffende stelsels te implementeer, waar hulpbronne toegewy word deur die departement om dié agterstand in te haal.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.