Blommeverkoper vang doktorsgraad – op 62!

Dr. Patricia (Trish) Zweig. (Foto: Universiteit Stellenbosch)

Vir nege jaar het dr. Patricia (Trish) Zweig waterblommetjies verkoop om haar twee kinders deur hoërskool te sit en vir haar honneurs- en meestersgraadstudie te betaal. Sy het egter nooit gedroom dat sy op die ouderdom van 62 ʼn PhD in Geografie en Omgewingstudie sou behaal nie.

Zweig, ʼn dosent en navorser by die Navorsingsalliansie vir Ramp- en Risikovermindering (Radar), ʼn onafhanklike navorsingsentrum aan die Universiteit Stellenbosch (US), het dié graad op 5 Desember verwerf.

“Die pad wat ek van kelnerin na akademikus gestap het, was ʼn lang en lonende een,” het Zweig in ʼn onderhoud met die universiteit gesê.

“Dit is ʼn ondenkbare prestasie. Ek sou nooit kon raai dat ek so ver sou kom of dat my studies my so ver sou kon bring nie.”

Zweig se akademiese pad was nie altyd maklik en sonder uitdagings nie. Sy het op die ouderdom van 36 besluit om omgewingstudies aan Unisa te studeer, en het in haar jonger dae verskeie poste, insluitend dié van kelnerin en blommeverkoper, beklee om uiteindelik die rol van ma, vrou en student vol te staan. Zweig se kinders was 11 en vyf jaar oud toe sy haar studies afgeskop het.

Sy sê sy wou dikwels handdoek ingooi, veral in haar honneursjaar toe haar dogter in matriek was.

“Maar as ek terugdink aan die pad wat ek gestap het, het ek baie wonderlike lewensondervindings gehad soos om regoor Afrika en die Verenigde State te reis.”

Sy is die eerste een in haar en haar man se gesin om ʼn graad te verwerf en is ʼn sterk voorstander daarvan dat mense ongeag hulle omstandighede moet gaan studeer sodat hulle hul horison kan verbreed.

“Ek hou daarvan om ander te inspireer – veral werkende mense met kinders – wat glo hulle kan nie studeer nie.

“Ek probeer hulle motiveer om in my voetspore te volg. Ek wil hê hulle moet die geleenthede kry wat ek gehad het. ʼn Aantal van my vriende wat werkende mammas was toe ons ontmoet het, het ook besluit om weer te gaan studeer. Hulle sluit onder meer ʼn landdros, prokureur en sielkundige in.”

Zweig, wat in Malawi gebore is en in Londen grootgeword het, het op 12-jarige ouderdom na Suid-Afrika verhuis. Sy het in Vishoek skoolgegaan en wou na skool verder studeer, maar weens omstandighede kon sy dit nie doen nie. Sy is getroud, het twee kinders gehad en om ʼn bestaan te maak, het sy as kelnerin gewerk, spysenieringswerk gedoen en kinderspeelgoed gemaak.

As student het sy floreer en het ʼn paar jaar later haar BA-graad in Antropologie en Geografie (cum laude) verwerf. In 2002 het sy met behulp van ʼn beurs wat die helfte van haar koste gedek het, haar honneurs in Geografiese Inligtingstelsels vir Ruimtelike Analise en Besluitneming aan die US voltooi.

In daardie tyd het sy ook waterblommetjies verkoop wat sy by plaaslike boere gekry het.

Aan die einde van 2002 het sy die toekenning vir die beste honneursprojek in daardie jaar gewen. Daarna het sy  ʼn beurs ontvang om haar meestersgraad aan die Universiteit van Kaapstad (UK) te voltooi. In 2006 het sy as deel van die eerste kohort van die Potters-navorsingsbeurs haar meestersgraad in Omgewingstudies en Geografie (cum laude) ontvang.

Zweig het vir twee jaar by die UK se Geografiedepartement gewerk, waarna sy vir die eenheid waaruit Radar ontwikkel het, gewerk het voordat die eenheid in 2010 van die UK na die US verskuif het.

Sy is hierna aangewys as die projekbestuurder van Periperi U – ʼn konsortium van Afrika-universiteite wat kapasiteit bou om ramprisko’s in Afrika te verminder. As projekbestuurder kon sy universiteite regoor die wêreld besoek.

Sy het besef sy is lief vir klasgee, veral oor ramprisiko, en het in 2015 ʼn akademikus by Radar geword. Haar werk het die aanbied van lesings en navorsing behels. Sy bied ook Geografiekursusse by die US aan.

Sy het baie jare in informele nedersettings gewerk en het ʼn passie vir gemeenskapsgebaseerde navorsing en uitreikingsprogramme op die gebied van stedelike risiko en kwesbaarheid, sowel as bestaanstudie.

As deel van Radar is sy ook by uitgebreide ex-post rampstudie in die Wes-Kaap betrokke en sy bied kortkursusse aan vir praktisyns oor ramprisiko-onderwerpe.

Zweig, ʼn selferkende natuurliefhebber, woon in Glencairn en hou daarvan om in die berge te stap en na musiekoptredes te luister.

Sy beplan nie om verder te studeer nie en gaan in 2025 aftree.

“Dit was ʼn wonderlike avontuur. Ek is so bly ek het besluit om die pad aan te durf wat my belangstellings weerspieël.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Harley Davidson ·

Baie geluk ‘n groot prestasie as jy in ‘n eerste wêreld land bly in die piesang Republiek sit honderde gegradueerdes wat vir minimum salaris werk en dit is die wat gelukkig is om ‘n werk te hê, so my opinie mors van tyd en geld belê jou geld in ‘n waterblommetjie besigheid en skep ‘n mark in gauteng.

Harley Davidson ·

Ek is meer ‘n ou vir wiskunde en wetenskap maar sal aandag gee.

Republikein in die Wes Kaap ·

Dan sou sy nooit deur die wêreld gereis het nie.

Pablo ·

Veels geluk met deursettingsvermoë en jou Doktors graad. Jy is uniek. Dit het my 10 jaar geneem om my 500 plus bladsy DPhil te voltooi.

Nommer 7 ·

Wys net wat kan vermag word as daar ‘n wil is. Leerders wat Wiskunde Geletterdheid neem moet kennis neem van Patricia se prestasie.

piet ·

Jy kan altyd ‘n oorbruggingskursus neem op universiteit selfs as jy ‘n laer graad in ‘n vak in matriek gehad het, beslis nie die einde van die wereld nie.

Rina ·

Liewe Dr. Zweig,
Baie geluk met hierdie uitsonderlike prestasie.
Jy is beslis vir my ook ‘n voorbeeld van ongelooflike uithouvermoë.

Mieke ·

Wat ‘n wonderlike voel goed storie! Welgedaan, en u is definitief ‘n voorbeeld vir baie mense!

Karina ·

Baie geluk Dr Zwieg ! (Vra die plaaslike boere om asb weer geblikte waterblommetjies beskikbaar te stel. Dit maak ‘n heerlike gereg)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.